Ralph Griffiths is ‘n man met ‘n groot hart

Toe hy en sy gesin na Ermelo verhuis het, het hy by die Rotariërs betrokke geraak en sy liefdadigheidswerk voortgesit.

Ralph Griffiths, president van die Ermelo Rotariërklub, is ‘n man met ‘n groot hart.

Sy passie vir mense straal uit sy oë as hy opgewonde gesels oor die verskil wat hy en sy mede-Rotariërs in die lewens van minderbevoorregte mense probeer maak.

Ralph is al 25 jaar by liefdadigheid betrokke.

Die gesin was eers in Standerton woonagtig waar hy by die Lions Club betrokke was. By dié organisasie het die lede hulle veral beywer om geld in te samel om katarakte van mense se oë te laat verwyder en bysiende mense van brille te voorsien.

“Dit was die bevredigendste gevoel om te beleef hoe iemand wat vir lank nie behoorlik kon sien nie nou skielik helder visie het en ek sal die dankbaarheid op hulle gesigte nooit vergeet nie,” het hy gesê.

Toe hy en sy gesin na Ermelo verhuis het, het hy by die Rotariërs betrokke geraak en sy liefdadigheidswerk voortgesit.

Die Ermelo Rotariërklub voorsien mense in nood van kospakkies tot rolstoele en krukke en weereens raak dit aan sy hart as iemand wat nie geld vir ‘n rolstoel gehad het nie, nou skielik meer beweegbaar is en onafhanklik oor die weg kan kom.

Rotariërklubs van oor die wêreld heen werk saam en elke vyf jaar, byvoorbeeld, knap die skole in Kanada al hul toerusting op. Die ou stoele, tafels en selfs klaviere word dan na Suid-Afrika verskeep en in Witbank gestoor. Van daar word dit versprei na gebiede waar daar nood is.

Hy verseker egter die mense van Ermelo dat al die geld wat in Ermelo ingesamel word, teruggeploeg word in Ermelo se gemeenskap en versoek behoeftiges om hulle behoeftes onder die klub se aandag te bring sodat hulle kan probeer help.

Skole in Ermelo het al baat gevind by tafels en stoele en ‘n klavier. Dit vergemaklik die lewens vir die leerders aan die skole wat baat gevind het by die projek.

Ralph is ook ‘n opgeleide paramedikus en het al in die verlede baie van sy vrye tyd opgeoffer om noodhulpdiens by rugbywedstryde, karatebyeenkomste en skolesport te verrig.

Hy ry graag motorfiets in sy vrye tyd, lees wanneer hy tyd het en het al 11 Comrades-marathons voltooi.

Hy is ook ‘n diereliefhebber en ses honde, ‘n kat, ‘n papegaai en twee slange is deel van die huisgesin.

Hy het ook al polisieduikers bygestaan wanneer hulle na drenkelinge soek. Hoewel hy nie self geduik het nie, was hy daar in ‘n ondersteunende hoedanigheid.

Dié besige man het ook nog tyd om te studeer en het onlangs sy Honneursgraad in Besigheidsadministrasie voltooi en werk nou aan sy MBA.

Hy sê dat goeie tydsbestuur sy geheim is en dat hy elke oomblik van die dag positief benut.

Hy het ook genoem dat die organisasie soms onredelike versoeke kry, maar dat hy ferm in die riglyne bly.

Ralph het ander liefdadigheidsorgani-sasies in die dorp soos die Moths en die Phoenix Rotariërklub bedank vir hulle goeie samewerking en sê dat sonder hulle Ermelo Rotariërklub nie soveel goeie werk kon doen nie.

Verder bedank die gesinsman sy vrou, Nicolene, en kinders Grizelle, Kyle en Tylo vir hul ondersteuning en dat hulle altyd bereid is om skouer aan die wiel te sit as daar gewerk moet word.

Ralph nooi almal uit om deel van die Ermelo Rotariërklub te word en ‘n verskil in die lewens van die mense rondom jou te maak.

Exit mobile version