Fien se vlakoek wen basaarkompetisie

Van vlakoeke, sponskoeke, sjokoladekoeke, kaaskoeke, kolwyntjies en gebakte melktert tot koeke wat met tiemie, rooibos en bloukaas-peermousse gegeur is en selfs 'n "steam punk"-temakoek het reggestaan om die Koekedoor-kwaliteitstempel te kry.

Ermelo se tuisbakkers het Saterdag die geleentheid gehad om te wys wat waarlik uit hul oonde kom.

Die Hervormde Kerk se “eerste groot koekbakkompetisie”, soos hy sommer op die dag deur dr. Piet van Zyl, leraar van die gemeente gedoop is, was deel van die kerk se jaarlikse basaar.

Mari-Louis Guy van Koekedoor-faam en Gerda Swanepoel, Ermelo se eie Koekedoor-finalis en koeksisterkampioen, het die belangrike taak gehad om elke koek te proe en beoordeel.

Enige persoon kon vir die kompetisie inskryf met die gebak van hul keuse. Die koek self het as inskrywingsfooi gedien en was ná afloop van die beoordeling te koop.

Die kompetisie het talle deelnemers gelok, die jonste ‘n 13-jarige seun, en altesaam 35 koeke het op die proetafel gepryk.

Van vlakoeke, sponskoeke, sjokoladekoeke, kaaskoeke, kolwyntjies en gebakte melktert tot koeke wat met tiemie, rooibos en bloukaas-peermousse gegeur is en selfs ‘n “steam punk”-temakoek het reggestaan om die Koekedoor-kwaliteitstempel te kry.

Nadat al die koeke in hul onderskeie genres geproe is, is die wenners van vooraf teen mekaar opgeweeg en meer krities beoordeel.

Dit was ‘n vlakoek gebak deur Fien van der Westhuizen wat met die louere weggestap het.

Volgens Mari-Louis was die nederige vlakoek die perfekte gebak.

Cathy Hopkins se gebakte melktert is deur Mari-Louis beskryf as ‘n donskombers en het aan Cathy die tweede plek besorg.

Die derde prys het gegaan aan die susters Soekie Engelbrecht en Drika Human vir hul sjokoladespons-vrugtekoek.

Nanette Botha het die “uit-die-boks-dink”- prys ontvang vir haar rooibostee- en tiemiekoek.

Volgens die beoordelaars was die standaard baie hoog.

Hul raad aan alle voornemende bakkers is dat voorkoms nie alles is nie en dat die gebak vir homself moet spreek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version