Klompvoet-dogtertjie wil ook soos ander kan hardloop en speel

Zanel Schnepel (2) is met klompvoet gebore. Sy moet so gou moontlik nog ’n operasie ondergaan omdat dit komplikasies kan veroorsaak.

Zanel Schnepel is nou twee jaar oud en kan nie soos ander kinders speel, loop of hardloop nie.

Sy is met klompvoet (clubfoot) in albei voete gebore.

“Ek kon nie verstaan waarom sy so gebore is nie, want niemand in ons familie het klompvoet nie

“Ek was geskok en het baie gehuil en nie geweet of my kind ooit normaal sal kan loop en speel nie,” het Zanel se ma, me. Anzel Kruger, gesê.

Zanel was vyf dae oud toe sy reeds gips tot bo haar knieë gekry het.

Die meeste soorte klompvoet is by geboorte (aangebore klompvoet) teenwoordig.

Klompvoet kan in een voet of in albei voete voorkom.

Meeste babas wat met klompvoet gebore word, se voete word albei daardeur geraak.

Hoewel klompvoet pynloos vir babas is, moet behandeling dadelik begin.

Klompvoet kan beduidende probleme veroorsaak namate die kind groei, maar met vroeë behandeling kan die meeste kinders ’n normale lewe lei.

Nadat sy die eerste gips gekry het, moes Zanel weekliks nuwe gips kry wat haar voetjies verder in die normale posisie druk.

Sy het na die agtste week ’n operasie ondergaan.

“Hulle moes die sening agter haar hak afsny sodat haar voetjies meer kon draai.

“Na die operasie was sy vir vier weke in gips en het spesiale skoene gedra.

“Die skoene is met ’n staalplaat aanmekaar verbind.

“Sy het met daardie skoene leer kruip en sit,” het me. Kruger vertel.

Zanel het later ook skoene gedra wat “banana shoes” genoem word.

Die dokter het egter gesê dat dié skoene nie help nie omdat die spiere in haar voete te sterk is.

Sy kan nog nie normaal loop nie en daar is al verhardings aan die buitekant van haar voete.

As sy nie so gou as moontlik die volgende operasie kry nie, kan dit verskeie probleme vir haar groei beteken.

 

Me. Kruger werk nie tans nie omdat sy Zanel moet oppas.

Hulle wil eers die probleem met haar voetjies uitsorteer voordat hulle haar na ’n kleuterskool toe stuur.

Die volgende operasie sal bykans R50 000 kos en van die spiere in haar voete sal omgeruil word.

Omdat die gesin nie ’n mediese fonds het nie, gaan lede van DA Wyk 18 op Evander ’n dinee reël om geld vir dié operasie in te samel.

’n Datum vir die dinee is egter nog nie bevestig nie.

As jy vir Zanel kan help of meer inligting oor die dinee wil bekom, skakel me. Estelle Swart by 083 652 7727.

Zanel Schnepel (2) is met klompvoet gebore. Sy kan nie soos ander kinders rondhardloop en speel nie.
Zanel het vyf dae na haar geboorte gips gekry.
Die skoene is aanmekaar verbind met ’n staalplaat en Zanel het daarmee leer sit en kruip.

Hier kan duidelik gesien word hoe Zanel se voetjies met geboorte gelyk het.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version