Local newsNews

Tuinboukundige deel geheime met Standerton-vroue

Volgens me. Arina Duvenhage is dit een van die belangrikste aspekte van tuinontwerp want die struktuur is die lyne wat jou oog volg.

Die Standerton Tuinbouklub het onlangs ’n tuinontwerpkursus aangebied waar me. Arina Duvenhage, tuinboukundige van Boksburg, lede touwys gemaak het.

Sy het die belangrikste beginsels van tuinontwerp verduidelik naamlik:

  • Tuinstruktuur 
  • Fokuspunte in die tuin
  • Verskillende tuintemas
  • Harde tuinuitleg
  • Sagte tuinuitleg

Tuinstruktuur:

Volgens me. Duvenhage is dit een van die belangrikste aspekte van tuinontwerp want die struktuur is die lyne wat jou oog volg.
’n Formele tuin sal meer reguit lyne, sterk sirkels of 45° hoeke hê, terwyl ’n informele tuin verskilende lyne en patrone sal hê.

Die tuin se eenheid word deur die eenvoud van die tuinbelyning bepaal.

Hou die lyne so eenvoudig moontlik en gebruik lyne om die negatiewe lyne te verbloem, byvoorbeeld ’n lang, smal tuin kan verbloem word deur met sirkels of 45° hoeke te werk.

Teken eers ’n plan op papier en moet nie net begin om beddings om te spit en te plant nie.


Fokuspunte:

Die doel is om die oog op sekere areas te fokus of om die aandag te trek.

Die styl moet by die tuin pas.

’n Terracotta-pot kan byvoorbeeld nie in ’n formele tuin gebruik word nie of ’n baie, formele pot met sterk lyne in ’n kothuistuin nie.

Fokuspunte aan die einde van die tuin trek die aandag en moedig jou aan om deur die tuin te stap.

Daar moet nooit te veel fokuspunte wees nie, dit is te besig en verwar die oog.

Fokuspunte moet nie te klein wees nie, daar moet ’n balans tussen die fokuspunt en die tuin wees.

Die styl, kleur en grootte moet by die die styl en kleur van die tuin pas.

Fokuspunte moet ten minste 45° grade van mekaar af wees.


Verskillende tuintemas:

Die huis se styl en lyne moet ook by die tuintema pas.


Formele tuine:

Moet reguit lyne, sterk sirkels of 45° hoeke hê.

Die huis se lyne moet ook formeel wees.

Formele kleurskemas is groen en wit, geel en blou.

Harde landskapelemente moet ook formeel wees byvoorbeeld groot, vierkantige plaveiselstene en groot, formele potte.

Formele tuine het ook dikwels heininkies en formele lyne.


Informele tuine:

Het geen heininkies.

Dié tuine het gewoonlik losstaande plante met verskillende vorms en blare.

Baie gras en plante word in massas geplant.


Kothuistuine:

Dié soort tuine het baie rose en blomme van verskillende kleure met struike wat in vorms geknip word.

Sagte, vroulike kleure soos pienk, blou, pers en liggeel.

Dit het ook sagte, belynde potte met sagte kleure.


Franse styl:

Vol heininkies, daar is altyd laventelbome, standaardbome en gesnoeide bome.

Vierkantige plaveiselstene.

Kleure is grys, geel en rooi.

Inheemse styl: (Afrika)

Het altyd inheemse plante met swart kleipotte, Suid-Afrikaanse bome en stuike met baie klippe, stene, rotse, hout en gras.

Dié tuine is ook baie informeel.


Harde tuinuitleg:

Harde tuinuitleg sluit plaveisel, paadjies, water, potte en beelde in wat eerste, voor die plante, geplaas word.

Moet by die tuinstyl en kleur pas.

Waterelemente skep interessantheid en rustigheid en moet op die regte plek geplaas word.


Sagte tuinuitleg:

Dit is al die soorte plante in die tuin en moet by die tuinstyl pas.

Skep interessantheid met verskillende teksture byvoorbeeld blink blare en growwe blare.

Gebruik verskillende blaarvorms byvoorbeeld lang, ronde en gekartelde blare.

Gebruik ook verskillende kleure blare vir interessantheid.

Volgens me. Elize Trueman het die vroue die kursus baie geniet en baie geleer.

Sy het Appledew Gastehuis vir hul ondersteuning bedank.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button