Local newsNews

Francien de Kock is ’n ma, ’n baas en ’n ballerina

Me. De Kock het 'n honneursgraad in Bcom Informatika en werk ook as 'n besigheidsanalis.

  • Meeste klein dogtertjies droom daarvan om ballet op ‘n verhoog voor duisende mense te doen, maar om ‘n balletjuffrou te wees, was me. Francien de Kock se grootste begeerte.

“My gunsteling ballet is Les Sylphides en dit sou wonderlik gewees het om in dié ballet te dans, maar ek wou nog altyd ander leer om te ballet.”

Me. De Kock het op Bethal grootgeword en het in gr. 1 balletklasse by me. Elise Oosthuizen begin neem.

Sy het vir 12 jaar onder me. Oosthuizen gedans, waarna sy na Pretoria verhuis het om te gaan studeer.

Daar het sy ook haar Cecchetti Associate-balleteksamen, ‘n jaarkurses, voltooi wat vereis word om in die Cecchetti Ballet-metode klas te kan gee.

“Ek het ook in daardie jaar in ‘n balletproduksie by die staatsteater opgetree. Die jaar nadat ek dit voltooi het, het ek met my ander studies aan die Universiteit van Pretoria begin.”

Me. De Kock het ‘n honneursgraad in Bcom Informatika en werk ook as ‘n besigheidsanalis.

Sy het haar eie besigheidskonsultasie-onderming in 2012 gestig.

Sy het weekliks in 2015 by me. Oosthuizen se balletskool begin uithelp en toe me. Oosthuisen aftree, het sy die skool aan me. De Kock oorgegee.

Me. De Kock bestuur soggens haar onderneming en gee in die middag balletklas. “Die lekkerste van ballet gee, is om die ontwikkeling en interpretasies van elkeen van my studente te sien.

“Dit wat hulle eers nie kon regkry nie, kan hulle nou met vertroue doen. Ballet is so mooi en dit is lekker om te sien hoe hulle dit geniet.”

Die skool het tans 58 studente van beginnersvlak tot gr. 4.

“Ons bied ook weekliks volwasse balletklasse aan en ek het juis dié klas begin om myself te dwing om tyd te maak om te ballet.”

Die dansskool betrek soms selfs die studente se ouers by die klasse.

Me. Francien de Kock en haar dogter, Leyna, wat graag saam met haar ma ballet doen. (Foto: Mariska Wolhuter)

Tydens ‘n onlangse geldinsameling vir ‘n kankerpasiëntjie, het die dogtertjies en hul pa’s saam ballet gedoen.

“Ballet is pret en die dogtertjies het dit geniet om hul pa’s te leer.”

Me. De Kock is nie net ‘n dansjuffrou en sakevrou nie, maar ook ‘n voltydse ma van drie.

Om verder die kunste in Bethal te bevorder, reël me. De Kock jaarliks die Bethal Eisteddfod wat vanaf 21 tot 24 Augustus gaan plaasvind.

Om te ontspan, geniet die De Kock-gesin die plaaslewe, ry saam fiets en hou piekniek langs die dam.

Me. De Kock sien haarself as ‘n plaasnooi, is familievas en geniet die balans wat sy kry deur in die korporatiewe wêreld te werk en haar kreatiwiteit uit te leef wanneer sy balletklasse aanbied.

Sy het gesê ballet hou baie voordele in, soos goeie oefeninge vir klein en groot motoriese spiere en om kinders selfstandigheid te leer.

“Ballet leer dogters om grasieus te wees en hulle leer ook selfvertroue en selfdissipline.”

Vir me. De Kock is ballet nie net ideaal vir dogters nie, maar seuns wat wil dans kan ook daarby baat.

“Dit bevorder die ontwikkeling van soveel dele van die brein.”

Die dansskool gee ook Latinosize, ‘n pret mengsel van Latynse danse en oefening, asook ballroomlesse.

Die skool gaan volgende jaar vir die Wêreld Danskampioenskap inskryf.

Me. De Kock spog graag met haar studente wat verlede jaar na die Gauteng Ceccheti-toekennings genooi is.

“Daar is ‘n stigma dat balletonderwysers baie streng is en dat dit soms die inspirasie in ‘n kind dooddruk, maar ek wil hê almal moet dit geniet,” het me. De Kock gesê.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button