Editor's noteLocal newsNews

Vat hande teen werkloosheid

Daar is geleenthede daar buite - dit moet net aangegryp word.

Werkloosheid in Suid-Afrika is ’n werklikheid wat ons nie kan ignoreer nie.

Dit lei tot armoede, misdaad en kinders wat saam met hul ouers swaarkry en koud slaap.

Dit is ook nie ’n probleem wat oornag gaan verdwyn nie, maar ek dink dit het tyd geword dat ons nie meer net praat oor die probleem nie, maar iets daadwerkliks daaraan doen.

Mense moet begin om meer innoverend te dink en hul eie werksgeleenthede te skep.

Die Hoëvelder berig vandeesweek oor drie manne wat ’n mobiele motorwassery op die been gebring het en van huis na huis en besigheid na besigheid loop om motors te was.

Hulle het nie net gesit en wag dat die werk na hulle toe aankom nie, maar het ’n geleentheid gesien, dit aangegryp en die beste daarvan gemaak.

Ek dink ’n groot deel van die oplossing vir dié probleem lê in entrepreneurskap.

Ek weet van vroue wat nagte deur koeke bak, kosmaak of handwerk doen om kos op die tafel te kry.

Ons het elkeen twee hande en ’n verstand gekry en elke mens is wat my aanbetref met ’n verskuilde talent geseën.

Vir baie mense het bedel op straathoeke die enigste uitweg geword en ons sien dit daagliks in ons dorp.

Ek dink nie dit is die oplossing nie. Mense verloor hul waardigheid in die proses en moet baie afjakke van ongeduldige motoriste verduur .

Ek dink ook nie mens doen ’n bedelaar ’n guns deur vir hom of haar geld te gee nie, want hulle sal nooit gaan werk soek nie.

Daar is geleenthede daar buite – dit moet net aangegryp word.

Motoroppassers werk byvoorbeeld heeldag in die wind en weer, maar rus nie op hul louere nie.

Kom ons staan saam en help die werkloses uitkyk vir geleenthede om ’n verskil in hul lewens te maak en ook in dié van kinders wat saam met die ouers swaarkry.

Related Articles

Back to top button