Jason wil nie meer mense in die oë kyk nie

Man sukkel al vir jare om sy identiteitsdokument te kry. Sonder ’n ID-boek kan hy nie aansoek doen vir werk of selfs ’n bankrekening oopmaak nie.

SECUNDA – Mnr. Jason Malgas, beter bekend as Bubbles, sukkel al vir jare om sy identiteitsdokument te kry.

Mense noem hom Bubbles omdat hy glo baie praat.

“Ek is in Upington gebore en was nog baie klein toe my pa die pad gevat het.

“Hy is steeds iewers in Upington en ons kry hom nie in die hande nie”

Die probleem is dat hy nie sy oorspronkilike geboortesertifikaat kan kry nie.

Afskrifte van sy geboortesertifikaat moet gesertifiseer word om vir ’n ID aansoek te kan doen.

Sonder ’n ID, kan hy nie aansoek vir werk doen nie of selfs ’n bankrekening oopmaak nie.

Volgens die department van binnelandse sake is daar baie geleenthede waarvoor jy versoek sal word om ’n afskrif van jou ID te verskaf, soos vir behuising, onderwys en gesondheidsorgdienste, om aansoek te doen vir ’n bestuurderslisensie of ’n werk, wanneer jy besigheidsooreenkomste aangaan en selfs wanneer jy vir die werkloosheidsversekeringsfonds wil registreer.

Jy benodig ook jou ID wanneer jy aansoek vir ’n paspoort en visums doen en om te registreer om in die algemene en munisipale verkiesing te stem.

Mense het probeer om mnr. Malgas te help en die papiere om aansoek te doen vir die identiteitsdokument is glo al in een van die vroue se gesigte gegooi.

“My ma is oorlede toe ek 14 jaar oud was. Sy was baie siek en ek weet nou nog wat haar makeer het nie. Die mense vir wie my ma gewerk het, het my gelukkig gehelp om skool klaar te maak.”

Mnr. Malgas en sy ma het vanaf Upington saam met haar werkgewers na Secunda verhuis.

Hy het sy laerskoolloopbaan aan Laerskool Secunda voltooi en was in Jim van Tonderskool tot gr. 10 omdat die skool slegs tot gr. 10 klas aanbied.

Terwyl mnr. Malgas op hoërskool was, het hy in die koshuis gewoon.

“Ek was baie lief daarvoor om rugby te speel en was goed daarin. Dit was lekker om in die koshuis te bly omdat ek geweet het dat ek daagliks sal kos kry.”

Na gr. 10 moes mnr. Malgas self sien kom klaar en vir homself sorg.

Sy ma se werkgewers het hom weer eens tegemoet gekom deur vir hom blyplek in ’n houthuisie in hul erf aan te bied.

“Hulle het al so baie vir my gedoen en ook vir my genoeg komberse en kussings gegee.

“Ek kry gelukkig nie snags koud nie. Ek doen peace jobs om aan die lewe te bly.”

Mnr. Malgas pas soms mense se motors op, stoot trollies en doen enige iets wat hy kan om ten minste iets te kan koop om te eet.

Hy kan Engels en Afrikaans lees en skryf.

“Ek gebruik glad nie dwelms nie omdat ek sien wat dit aan ander mense doen en ek sal werk vir my kos en geld.

“As daar net iemand is wat weet hoe ons vir my ’n ID kan kry, sal my lewe heeltemal kan verander.

“Ek is baie dankbaar vir dit wat ek het en waardeer alles wat almal vir my doen, maar ek wil nie meer mense in die oë kyk nie.”

Indien daar iemand is wat hom kan help om ’n wettige I.D-boek te kry, kan hulle die Ridge Times se kantoor skakel by 017 634 7728.

Mnr. Malgas het kos, nr. 7 skoene, kouse, warm klere, seep, anti perspirant en handwaspoeier nodig.

Enige ander skenkings sal ook waardeer word.

Skenking kan ook by die Ridge Times se kantoor afgelaai word.

Merk duidelik dat dit vir Bubbles of Jason is.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

Exit mobile version