Bethal kort pleegouers

Daar word tans ’n tekort aan pleegouers op Bethal ervaar. Só kan jy help.

Die aantal pleegouers op die dorp het in die laaste drie jaar afgeneem.

Volgens me. Isabel Faurie, Helpende Hand se maatskaplike werker, is daar veral in Mpumalanga ’n groot tekort aan pleegouers en gesinne wat hul wonings as plek van veiligheid in ’n krisis kan aanbied.

“Honderde kinders is op soek na ’n liefdevolle huis en voornemende pleegouers moet nie bang wees om in te spring en ’n verskil te maak nie.”

Redes vir die verwydering van kinders uit ouerlike sorg hou verband met onder meer fisieke, seksuele en/of emosionele mishandeling, fisieke en/of emosionele verwaarlosing, ernstige gesinskonflik en gesinsgeweld, alkohol- en dwelmmisbruik deur die ouers, en onstabiele maatskaplike funksionering.

“Die uitdagings van pleegsorg kan egter ook nie gering geskat word nie en is dit dus uiters noodsaaklik dat voornemende pleegouers deeglik gekeur moet word om te verseker dat daar holisties in die behoeftes van die betrokke kind voorsien sal word,” het me. Faurie verduidelik.

Hoewel Helpende Hand nie oor die statutêre mag beskik om kinders in pleegsorg te plaas nie, is hulle vanweë hul betrokkenheid by armoede onder wit mense bewus van gebreke in die stelsel.

Pleegsorg.co.za verduidelik in diepte wat pleegsorg behels en bied ’n uiteensetting van die regte van die pleegouer, biologiese ouers en die pleegkind.

As jy betrokke wil raak, besoek www.pleegsorg.co.za of SMS “pleegsorg” na 38969 om R10 aan die Helpende Hand Pleegsorgfonds te skenk.

Dié fonds word aangewend om kinders in pleegsorg se addisionele behoeftes, soos arbeidsterapie, spraakterapie en berading, te dek.

Vir meer inligting, skakel Alisha de Lange by 082 923 1438.

Lees die volle berig in die Ridge Times.

Exit mobile version