NewsSchools

Provinsiale kroon in sig vir Ligbron rugby

Ligbron het as oorwinnaars uit die stryd getree met ’n telling van 28-21.

Sewe van Ligbron Akademie vir Tegnologie se nege rugbyspanne is deur na die Mpumalanga halfeind- en eindstryde.
Agt van die Ligbron-rugbyspanne het die afgelope naweek in Piet Retief deelgeneem aan die kwarteindwedstryde vir die A-spanne en halfeindwedstryde vir die B-spanne.
Die 0/15A’s was die enigste span wat nie hul wedstryd gewen het nie. Hulle het met 5-57 teen Hoërskool Rob Ferreira vasgeval.
Die Ligbron Calstar Group eerste span het teen Hoërskool Lydenburg uitgedraf. Ligbron het binne die eerste drie minute ‘n drie gedruk en verdoel en kort daarna nog ‘n verdoelde drie aangeteken.
Lydenburg het teruggeslaan en teen halftyd was die telling 14 elk.
Kort nadat die tweede helfte begin het, het albei spanne weer elkeen ‘n drie gedruk en verdoel wat die telling op 21 elk te staan gebring het.
Die Liggies het egter vir groot opwinding gesorg toe hulle ‘n vierde drie behaal en verdoel het.
Ligbron het as oorwinnaars uit die stryd getree met ‘n telling van 28-21.
Die spelers wat drieë gedruk is Njabulo Mahlobo, Message Nkosi, Sizwe Maseko en Edward Deacon.
Message Nkosi het al die drieë verdoel.
Dié span dring deur na die halfeindstryd waar hulle teen Hoërskool Secunda te staan sal kom.
Die tweede span het Hoërskool Secunda met 22-7 geklop en deurgedring deur na die eindstryd teen Hoërskool Standerton.
Die derde span het Hoërskool Lydenburg met 10-7 gewen en sal in die eindstryd teen HTS Witbank speel.
Die 0/16A’s het punte ontvang weens Hoërskool Bergvlam se onttrekking. Hulle sal in die halfeindstryd teen Hoërskool Secunda speel.
Die 0/16B’s het HTS Witbank met 72-0 afgeransel en meet in die eindstryd kragte met Hoërskool Piet Retief.
Die 0/14A’s het Hoërskool Lydenburg met 66-0 geklop en ontmoet Hoërskool Secunda in die halfeindstryd, terwyl die 0/14B’s ná hulle oorwinning van 61-7 oor HTS Witbank in die eindstryd teen Hoërskool Rob Ferreira te staan kom.
Die halfeindstryde vir die A-spanne en eindstryde vir die B-spanne vind Saterdag, 24 Junie op Ligbron Akademie vir Tegnologie se velde plaas.

Related Articles

Back to top button