Local newsNews

Die derby is die ding

Skoolsport is net dit - skoolsport. Dit is kinders wat deelneem en nie een van hulle speel om te verloor nie.

Saterdag is dit weer tyd vir die derby-wedstryd tusen Ligbron Akademie vir Tegnologie en Hoërskool Ermelo.
Nou ja, wat kan ‘n mens hieroor sê?

Albei skole het ‘n lang en ryke geskiedenis van uitmuntende prestasies, op die sportveld sowel as op kulturele en akademiese vlak.

Die een weliswaar meer as die ander, gegewe die aantal jare van sy bestaan. Ek meen nou, as iemand reeds matriek in 1941 daar geskryf het, moes die skool al net duskant die steentydperk gestig gewees het, of hoe? (Grappie, Oom!)

Die ander een wat in vergelyking slegs melkbaardstatus geniet (in terme van ouderdom, Omie!) se matrikulante van toentertyd wys ook teen dié tyd ‘n plooi of twee.

Dit is nou eenmaal so dat daar veral op sportgebied wedywering is en sal wees, veral as daar van rugby gepraat word. (Daar word deesdae nie rugby gepraat in ons huis nie. Dit is nou weens die huidige vrot vertonings van ons spanne, die Cheetahs en die Bulle in die Super-rugbyreeks.)

Die meeste van ons het maar ons gunstelingspanne wat ons ondersteun. Ons juig breë-bors as hul wen en as hulle verloor, blameer ons die skeidsregter, afrigter, die reëls en sommer ook die hadidas wat oor die veld gevlieg en ge-haha het op daai “kritieke” oomblik.

Maar mense, skoolsport is net dit – skoolsport. Dit is kinders wat deelneem. Hulle wat nog nie die grootmenswêreld daar buite beleef of ervaar het nie. Nie een van hulle speel om te verloor nie en elkeen gee sy of haar bes, wen of verloor.

Hulle is maar nog broos en kry seer, fisiek en emosioneel, veral as daar foute in die wedstryde gemaak word.

Kom ons los die snedige en afbrekende aanmerkings en kritiek vir die braaivleisvure en ons Super -en Curriebekerspanne.

Saterdag gaan ons een en almal as één dorp ewe hard langs die sportvelde juig en hande klap.

Nie net vir die wenners nie, maar vir elke kind wat sy of haar bes gegee het – ongeag of hul span gewen of verloor het.

 

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Ridge Times and Standerton Advertiser.

For more news and interesting articles, like us on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

Related Articles

Back to top button