Esmari is gelukkig om nie lank vir nuwe nier te wag nie

Gemeente stig fonds omdat mediese fonds nie alles betaal nie.

Me. Esmari Herselman (27) van Bethal het vertel sy is baie gelukkig om na slegs 11 maande se wag, ‘n nier te ontvang.

Sy is met nierversaking gediagnoseer en haar niere het ‘n jaar gelede baie probleme begin gee en sy moes vier keer per dag nierdialise kry.

Me. Herselman het op 18 April ‘n nieroorplanting ondergaan.

“Baie mense wag 10 tot 11 jaar vir ‘n nier.

“Ek ken iemand wat ses jaar gewag het.

“Om só gou ‘n nier te ontvang, is genade van bo,” het me. Herselman tydens ‘n telefoniese gesprek aan die Ridge Times gesê.

Sy het in gr. 11 probleme met haar sig begin kry.

Me. Herselman ly moontlik sedert geboorte aan makulêre degenerasie wat haar oë begin beïnvloed het.

Dit sal dikwels vae, spikkelvisie of verwronge visie veroorsaak.

Me. Herselman studeer tans.

“Ek studeer fondasiefase-onderwys deur Unisa.

“Om te lees, is ‘n baie groot uitdaging vir my weens die makulêre degenerasie,” het sy vertel.

Sodra sy klaar studeer het, wil sy graag by ‘n skool vir gestremdes gaan werk omdat sy self nie goed kan sien nie.

Me. Herselman is steeds in die hospitaal na die nieroorplanting en daar moet nog baie bloed- en ander toetse gedoen word.

Haar mediese fonds betaal nie al die koste nie en ook nie die volle bedrag vir haar medikasie nie.

Daar is baie uitgawes wat hulle self sal moet betaal, soos gereelde bloed- en ander mediese toetse, vervoerkoste na en van Pretoria, spesialisbesoeke en talle ander onbekende koste wat nie deur haar fonds betaal word nie.

Haar predikant en van die gemeentelede het die insiatief geneem om ‘n fonds vir haar te stig om sodoende geld in te samel.

Dié fonds sal deur die prokureursfirma Cohen, Cronjé en Van der Walt bestuur word.

Alle geld sal in ‘n trustrekening betaal word wat dan gebruik sal word om me. Herselman se mediese koste te dek.

As daar geld oorbly, sal dit weer na ander organisasies of mense gaan wat dit nodig het.

Mense wat die Esmari Herselman Nierfonds wil ondersteun, kan geld in die volgende trustrekening inbetaal: Cohen, Cronjé & Van der Walt Trustrekening, FNB Bethal, rekeningnommer 51671004947, takkode 270144, verwysing Esmari Nierfonds.

Vir meer inligting, skakel mnr. Jan Uys by 083 703 4407.

Exit mobile version