Kyle se wonderbaarlike herstel

"Soveel mense glo nie meer in wonderwerke nie en nou kan almal dit saam met ons beleef. "

Kyle Verfaillie wat einde verlede jaar met Rasmussen se sindroom gediagnoseer is en op Valentynsdag ‘n operasie ondergaan het waartydens sy regterbreinlob verwyder is, veg dapper voort na ‘n onlangse terugslag.

Hy het goed aangesterk ná sy operasie in Februarie en het almal verbaas met sy vinnige vordering en positiewe gesindheid.

Maar die eerste week in April het alles skielik verander, Kyle het weer tot 50 aanvalle ‘n dag begin kry en bloed gebraak.

Sy ouers, Marc en Juanita, het hom na die Mediclinic gehaas vanwaar hy oorgeplaas is na die intensiewesorgeenheid by die Unitas-hospitaal in Pretoria.

Daar het Kyle drie dae lank gelê. Die dokters was raadop, hulle kon niks doen om hom te help nie en het hom huis toe gestuur.

Marc vertel dat al wat hulle kon doen, was om Kyle gehidreer te hou en te bid.

Toe, vier dae ná hul tuiskoms, word Kyle die oggend wakker en alles is reg: die aanvalle het opgehou en hy kon weer alles binnehou.

18 April, ‘n week ná die ommeswaai in sy toestand, was voorwaar ‘n wonderbaarlike dag in die familie se lewe.

Juanita vertel dat hulle met alledaagse dinge in die huis doenig was, toe Chloë, Kyle se ouer sussie, histeries uit die sitkamer gil: “Boetie loop!”

“Kyle het eenvoudig van die bank af opgestaan en begin loop. Dis ‘n wonderwerk en daar is net een Dokter,” sê Juanita met haar hande opgelig na die hemel.

Kyle se vordering kan daagliks gemeet word. Hy loop nou al met meer selfvertroue en waar hy voorheen geen emosies kon toon nie, kan hy nou al gaap en hoes.

Kyle is ‘n regte terggees en put baie genot daaruit om sy ouma se siel uit te trek deur te maak of hy gaan val.

Hy demonstreer graag die kamma-val, terwyl hy op sy eie manier uit sy maag lag. Hoewel hy nog nie kan praat nie, is sy verstand steeds helder en hy geniet dit om Monopoly saam met sy sussie te speel.

Juanita vertel dat hy self die nommer op die dobbelsteen kan identifiseer en daarvolgens die korrekte skuiwe kan maak.

Die Verfaillies se lewe het die afgelope paar maande baie verander, nie net in die sin van Kyle se rehabilitasie nie, maar ook geestelik.

‘n Wonderwerk het gebeur en hulle kan dit met so baie deel.

“Soveel mense glo nie meer in wonderwerke nie en nou kan almal dit saam met ons beleef.

Ons almal moet leer om heeltyd dankie te sê, al gaan dit goed,” sê Juanita.

Die werklikheid is dat daar steeds ‘n lang pad vir hulle voorlê en die daaglikse roetine van osoonbehandeling en fisioterapie tot spraakterapie is lank nie verby nie, en Marc en Juanita is ewig dankbaar vir elkeen wat hul tot dusver bygestaan het en steeds bystaan.

Vir nou, ten spyte van alles wat hy deurgemaak het en die hindernisse wat hy nog moet oorkom, bly Kyle steeds ‘n 10-jarige seun wat altyd ‘n glimlag op sy gesig het, graag met sy gunsteling-karretjies speel en net die vreugde van kindwees ten volle wil geniet.

 

For free breaking and community news, visit our websites:

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

Like our Facebook page and follow us on Twitter.

Exit mobile version