Editor's choiceLocal newsNews

Leechelle se operasie ’n groot sukses

Die oor-, neus- en keelspesialis wat haar geopereer, het, het ingestem om sy deel van die operasie verniet te doen.

Sedert die Ridge Times oor Leechelle van Zyl, ’n Down-sindroomdogterjie, berig het, het die donasies ingestroom sodat sy vir ’n mangeloperasie kon gaan, asook om dreineringspypies in haar ore te laat sit.

Leechelle (6) is met vergrootte mangels gebore en dié het sedertdien baie probleme veroorsaak.

’n Onderneming het gesê dat hulle ’n groot bedrag sou betaal en ander weldoeners het ook van hulle laat hoor.

Die oor-, neus- en keelspesialis wat haar geopereer het, het ingestem om sy deel van die operasie gratis te doen.

Die nakotiseur en die hospitaal het daarna laat weet dat hulle ook hul deel gratis sal doen.

Leechelle is op Dinsdag, 11 April geopereer en die operasie was suksesvol.

“Net voordat sy in die teater ingegaan het, het ons gelukkig goeie nuus gekry.

“Sy is met ’n gaatjie in haar hart gebore en nadat die dokter na haar hart geluister het, het hy gesê dat dié gaatjie besig is om toe te gaan.

“Die gedruis is baie minder.

“Leechelle wou eers die teaterrokkie uittrek en het vir almal gewaai en ‘koebaai’ gesê.

“Hulle is baie goed met kinders hier en het haar opgetel en met haar ingeloop.

“Ek en my man was gerusgestel, maar ons is ook bly dat dit nou verby is,” het me. Charlotte van Zyl, Leechelle se ma, verduidelik.

Sy en Leechelle se pa, mnr. Lionel van Zyl, het almal vir hul hulp en bydraes bedank.

“Baie dankie vir alles.

“Ons waardeer dit opreg en dankie dat julle my dogterjie gehelp het.

“Dit kan van hier af vorentoe net beter gaan,” het mnr. Van Zyl gesê.

Daar is meer geld ingesamel as wat nodig is en dit word vir Leechelle se nasorg gebruik.

Haar ouers is dankbaar vir elke sent wat inkom omdat hulle dit nodig het, nie net vir die operasie nie maar ook vir haar skoolfonds omdat sy in ’n spesiale skool, Marietjie Skool, skoolgaan.

Geld kan in die volgende rekening betaal word: Marietjie Skool, Absa-tjekrekening 1002831461, verwysing Leechelle van Zyl.

Mense wat geld in die skool se rekening betaal, kan navraag doen vir ’n staat om te sien dat die geld wel vir haar gebruik word.

Mnr. Lional en me. Charlotte van Zyl ondersteun Leechelle op Dinsdag. 11 April nadat sy geopereer is. Leechelle was nog moeg van die narkose en haar keel was seer. Sy het heeltyd na haar sussie gevra en wou graag huis toe gaan, maar moes eers haar roomys eet voordat die hospitaal haar wou ontslaan.
Mnr. Lional en me. Charlotte van Zyl ondersteun Leechelle op Dinsdag. 11 April nadat sy geopereer is. Leechelle was nog moeg van die narkose en haar keel was seer. Sy het heeltyd na haar sussie gevra en wou graag huis toe gaan, maar moes eers haar roomys eet voordat die hospitaal haar wou ontslaan.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button