Casey veg TB Meningitis met ’n glimlag

Klein Casey Els het TB Meningitis opgedoen toe haar imuungebrek komplikasies met BCG Tuberkulose inenting veroorsaak het.

Casey Els het ’n glimlag wat jou hart laat smelt én sy glimlag graag.

Hoewel dié negejarige blind en stom is en ook nie kan loop nie, verstaan sy alles wat om haar gebeur.

Casey is met ’n immuungebrek gebore, maar was andersins ’n gesonde baba.

Sy was op tweejarige ouderdom nog ’n borrelende klein dogtertjie wat lief was vir musiek, sing, boeke en haar “Peppa Pig” toe sy skielik siek geword het.

Haar ouers het ’n knop op haar been ontdek en dokters haar met tuberkulose gediagnoseer na ’n biopsie.

Die tuberkulose het na Casey se brein versprei en TB meningitis veroorsaak.

Casey ’n BCG tuberkulose-inenting as baba ontvang, maar weens komplikasies met haar immuungebrek het die inenting veroorsaak dat sy TB opgedoen het

Haar toestand het vinnig agteruitgegaan en dokters moes klein pypies wat vloeistof vanuit die brein na die maag dreineer, in haar brein inplant.

“Ons was vir maande in hospiale met haar en dit was vir ons gesin ’n moeilike tyd,” het mnr. Ockie Els, Casey se pa, gesê.

Tog sien die Els-gesin dié tydperk in hul lewens as ’n positiewe tyd wat hul verhouding met God heeltemal verander het.

“Casey het ons bly vertel dat Jesus lief is vir ons en dat Jesus in haar hartjie bly.

“Dit was vreemd, want ons gesin was baie privaat in ons geloof voordat sy siek geword het,” het mnr. Els gesê.

Omdat Casey se toestand so raar is, was dokters onseker hoe om haar te behandel en was die vooruitsigte oor haar kanse om gesond te word, negatief.

Dokters het begin weier om Casey, toe ses jaar oud, verder te behandel en het die gesin begin bid en hul hoop en vertroue in God geplaas om hul kind te genees.

“Op ’n stadium het dokters vir ons gesê Casey het net vier ure oor om te leef, haar pupille het nie meer gereageer nie en daar was tekens dat sy breindood was.

Die dokters was verstom toe hulle Casey die volgende dag sien rondloop,” het haar pa gesê.

’n Nuwe dokter het besluit om Casey te help en hy het die “shunt” se pypie ontblok en nog tekens van tuberkulose op die regterkant van haar brein ontdek en het haar weer op baie sterk TB-medikasie gesit.

“Selfs die dokter kon die feit dat Casey vir twee jaar met ’n geblokte pypie in haar ‘shunt’ aanhou leef het, net as ’n wonderwerk beskryf,” het mnr. Els bygelas.

Haar toestand het drasties na die operasie verbeter en dit lyk asof Casey geen van die gewone newe-effekte van die medikasie onderind nie.

“Mense glo nie meer in wonderwerke nie, maar elke dag saam met Casey is ’n wonderwerk,” het ’n emosionele me. Cheryl Els, Casey se ma, gesê.

Haar ouers se grootste droom vir hul klein dogtertjie is dat sy ten volle sal genees en dat haar verhouding met God net sal sterker word.

Die Els-gesin se raad aan ander ouers wat ook deur ’n swaar tyd gaan met hul kind se gesondheid of ander probleme, is dat hulle al hul probleme aan God moet oorgee en moed moet hou.

Casey sing steeds op haar eie manier haar liedjies en geniet haar kleinboet, Ockie Junior.

Sy glimlag onophoudelik wanneer daar met haar gesels word en as haar ouers haar vra waar Jesus is, dan beduie sy na haar hartjie.

 

Me. Cheryl Els, klein Ockie, Casey en mnr. Ockie Els.
Exit mobile version