Ella de Bruin se lewe herdenk

Ella sal vir altyd onthou word vir die voorbeeld wat sy gestel het van hoe een persoon 'n verskil in 'n gemeenskap kan maak.

Ella de Bruin se familie het verlede week saam met die gemeenskap hul moeder se nalatenskap herdenk. Voor sit Bea de Bruin (kleindogter en naamgenoot), Theresa Pistorius (dogter), Siegfried de Bruin (seun) en Marcus de Bruin (seun). Agter staan Petro Bouwer (EHS en familievriendin), Pieter Grobler (EHS-skoolhoof), Dirk de Bruin (seun), Rudolph de Bruin (seun) en George de Bruin (seun).

Die lewe van een van Ermelo se invloedrykste vroue, Ella de Bruin, is verlede week herdenk.

Ella is 45 jaar gelede op die ouderdom van 52 oorlede.

Die Ella de Bruin-saal in die Burgersentrum is na haar vernoem.

Sy was bekend as die skrywer van Ligbron en Laerskool JJ van der Merwe se skoolliedere, dokter- en burgermeestersvrou en ‘n ma van agt seuns en een dogter.

Ella het die vermoë gehad om die dorp se vroue spesiaal te laat voel en het ondermeer Engels-, ballet-, model -en hoedemaakklasse aangebied.

Van haar familielede het verlede Dinsdag na Ermelo gereis om saam met die gemeenskap en skole hul moeder se nalatenskap te herdenk.

Die dag het begin met ‘n besoek aan Laerskool JJ van der Merwe waar die leerders die skoollied uit volle bors gesing het.

Daar het hulle oor Ella se invloed op die Ermelo-gemeenskap gesels en die De Bruin-familie het mnr. Hennie Matthee se moeite om die oorspronklike lied, in Ella se handskrif, op te spoor, opreg waardeer.

Daarna het almal na Ligbron Akademie vir Tegnologie vertrek waar die hartsnare weereens geroer is.

Daar het die leerders met trots en oorgawe hul skoollied, ook deur Ella geopen, aan die De Bruins opgedra.

Weereens is daar gesels oor die ou dae en in ‘n gesprek met Ella se familie het mnr. Dup van Rensburg gesels oor sy opregte waardering vir dié dinamiese en invloedryke voorloper.

‘n Besoek aan Ermelo, waar Ella diep spore getrap het, sou onvolledig wees sonder ‘n besoek aan Hoërskool Ermelo waar Ella in die beheerraad gedien het en daar vir 22 jaar ononderbroke ‘n De Bruin-kind op die skoolbanke gesit het.

In die personeelkamer het me. Petro Bouwer gesels oor haar herinneringe aan die De Bruin-gesin.

Sy het vertel van hul eerste ontmoeting toe sy as drie-jarige saam met haar ouer sussie Rika twee keer per week na “tannie Ella” se huis gegaan het vir balletklasse, die balletkonserte in die ou stadsaal en al die geld wat aan die destydse kreupelsorg geskenk is.

Sy onthou ook die vreugde in die De Bruin-gesin met die geboorte van hul negende kind en enigste dogter, Theresa.

Die dag is afgesluit met ‘n ete by Izimbali en almal was dit eens dat Ella altyd onthou sal word vir die voorbeeld wat sy gestel het van hoe een persoon ‘n verskil in ‘n gemeenskap kan maak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version