‘Moordenaars kon nie my geluk steel nie’

Bethal-vrou praat oor haar man en seun wat vermoor is.

BETHAL – Me. Magda Stander is lief vir tale en woorde en weet hoe om met woorde te speel.

Dit was haar droom om ’n boek te skryf wanneer sy aftree.

“Die tyd het aangebreek, die kinders is uit die huis uit en ek kan my tyd bestee aan dit wat ek wil,” het me. Stander gesê.

Sy het na ’n fantasieboek vir kinders gesoek wat gewone diere as karakters het, maar kon nêrens een kry nie.

Me. Stander het daarom reeds begin om haar eie kinderboek te skryf.

Dié boek behoort reeds einde vanjaar klaar te wees en hoewel sy nog nie weet wat die boek se naam gaan wees nie, sal dit prettig wees.

Me. Stander is lief vir diere en twee rondloperhonde het hulself by haar tuis gemaak, hoewel sy meer aan katte gewoond is.

Haar man is in 1998 vermoor.

Hy was ’n sers.- maj. in die kommando.

“Dit was vir my baie moeilik.

“Hy was gesond en aktief en niemand sou kon dink dat só iets met hom kon gebeur nie.

“Mens is ’n ander mens na seerkry en leer baie daaruit.

“Die kinders was nog in die huis en ons moes leer om aan te gaan.”

Me. Stander se seun, mnr. Adriaan Stander, is in 2013 in haar huis vermoor.

“Adriaan het my middae by die werk kom haal.

“Hy was altyd stiptelik, maar was daardie dag laat.

“Ek het vermoed dat hy in ’n motorongeluk was en het begin huistoe stap.

“Die grassnyer het nog buite gestaan en die voordeur was oop.

“Adriaan het gewoonlik vroegoggend grasgesny.

“Ek het dadelik onraad vermoed, die nooddienste geskakel en in die huis ingegaan.

“Hy is met sy gesig na onder toe aan die bed vasgemaak en daar was verskriklik baie bloed.

“Hy was reeds dood.”

Mnr. Stander is deur vier inbrekers oorrompel en doodgeslaan.

“Die moordenaars kon egter nie my geluk steel nie.

“My dogter was nog op skool en ek moes weer eens aangaan en die lewe dag vir dag aanpak.

“Die ondersteuning van my vriendinne het my deurgedra.

“Ons het die aand nadat my seun vermoor is, matrasse in die sitkamer gedra en almal daar geslaap.”

Me. Stander hou nou minstens vier keer ’n jaar ’n tee vir haar vriendinne.

“Mens is nooit weer dieselfde nie en jy is nie heeltemal die ‘happy’ mens wat jy was nie.

“Niemand gaan jou gelukkig maak nie.

“Doen waarvan jy hou en leef ten volle.

“Ek vier fees oor elke klein dingetjie en bêre nie my mooi teekoppies nie, ek gebruik dit.”

Me. Stander se eerste skildery is reeds klaar nadat sy verlede jaar met kunsklasse begin het.

Sy is lief vir lees en hou veral van Dana Snyman se werk.

Baie mense vra hoe sy die tyd omkry sedert haar aftrede, maar vir haar is daar te min ure in een dag.

Sy hou haar besig met Scrapbooking, swem, kunsnaaldwerk en om poppies vir haar kleinkind te maak.

Me. Stander skryf ook oor alledaagse gebeure en beplan om ’n boek oor haar man en seun se moord te skryf.

 

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Highvelder, Standerton Advertiser

For more news and interesting articles, like us on Facebook, and follow us on Twitter and Instagram

Exit mobile version