Local newsNews

Secunda se infrastruktuur word nie onderhou nie

Sommige inwoners sukkel al jare om probleme naby hul huisie te laat herstel.

SECUNDA – Plaaslike inwoners is alweer omgekrap oor die Govan Mbeki Munisipaliteit se klaarblyklike onvermoë om die dorp se infrastruktuur te onderhou.

’n Inwoner sukkel al meer as ’n jaar om die munisipaliteit sover te kry om die hoofkraan voor sy huis te herstel.

“Dit was só groot oop dat die waterdruk in die huis heeltemal te hoog was.

“Iemand van die munisipaliteit het die kraan uiteindelik kom toedraai, maar nou het die kop van die kraan afgebreek en die water lek daar en die gebied rondom die inspeksiegat het ingeval.

Die plaveiselstene is ook uitgebreek en net so langs die gat gelos.

Die munisipaliteit is om kommentaar genader, maar het nie teen druktyd kommentaar gelewer nie en die probleem is volgens die inwoner nog nie aangespreek nie.

’n Ander inwoner is ook bekommerd oor die slaggat in Broadbentstraat wat daagliks groter word.

Dit is bykans ’n meter breed en strek oor die hele linkerkantste baan van die pad.

Die gat is bykans drie weke gelede met grond opgevul, maar die onlangse swaar reën het die grond weer uitgespoel.

Die munisipaliteit is weer eens vir kommentaar gevra, maar hulle het na bykans ’n maand nie gereageer nie.

Volgens ’n ander inwoner sukkel sy reeds bykans vyf jaar met ’n waterlek reg langs ’n elektriese verdeelboks naby haar huis in Stowstraat.

“Ons skakel, meld die probleem aan en kry soms verwysingsnommers.

“Daar word gesê iemand sal uitkom en dan wag ons, maar vir die afgelope vyf jaar sukkel ons met dié vreeslike gevaarlike waterlek.”

Die waterlek is weer eens op 25 Januarie aangemeld en ten spyte van beloftes dat dit die volgende dag uitgesorteer sou word, lê daar drie weke later steeds ’n poel water langs die verdeelboks.

Inwoners is ongelukkig omdat dit voorkom asof die werkers wat verantwoordelik is vir onderhoud, nie gehoor gee aan die klagtes wat by die klagtekantoor aangemeld word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button