JONGSTE NUUS: Plaasbestuurder vasgebind tydens plaasaanval

Die aanvallers het haar vasgebind en op die kluis se sleutels aangedring waarna hul die vuurwapen verwyder het.

’n Plaasbestuurder, me. Emily Schoeman, is ongedeerd na ’n aanval op ’n plaas op die Robertsdrift-pad in die vroeë oggendure van 16 Februarie.

Me. Schoeman werk al 10 jaar in die hoenderbedryf en het na afloop van haar dagtake huiswaarts gekeer salig onbewus van wat op haar wag.

Volgens haar seun, mnr. Nico Schoeman, was die honde rustig wat geen aanduiding kon gee dat sy deur twee booswigte oorval sou word nie.

Die aanvallers het haar vasgebind en op die kluis se sleutels aangedring waarna hul die vuurwapen verwyder het.

Me. Schoeman se selfoon is ook gebuit en rowers het met die voertuig op die erf, ’n Hilux-bakkie, op die vlug geslaan.

’n Sein is per radio na die noodgroepe uitgestuur en die omliggende boere het met die polisie en Kasselman Veiligheidsdienste in verbinding getree.

Na bewering is die gesteelde voertuig op Standerton opgemerk en volgens mnr. William Haskins van Kasselman het dit ’n oor-en-weer skietery op die Robertsdrift-pad tot gevolg gehad.

Die voertuig, kragopwekker agterop en bankkaarte is klaarblyklik teruggevind nadat die skelms, met die vuurwapen in hulle besit, in die rigting van Sakhile gevlug het.

Die rowers is nog op vrye voet.

“Wees paraat en hou jou oë en ore oop,” het mnr. Schoeman gesê.

Die Val Polisie ondersoek die aanval en die Standerton Polisie het ’n soektog van stapel na die verdagtes gestuur.

Lees die volledige berig in die volgende uitgawe van die Standerton Advertiser.

Exit mobile version