Local newsNews

Kyle veg nie alleen

Sy pa, Marc, sê terwyl Kyle in die hospitaal was, het hy tot 137 aanvalle wat elk twee tot drie minute duur per dag gehad, maar die ergste was 'n aanval wat drie en 'n halfuur lank geduur het.

Die Verfaillie-gesin van Ermelo se lewe het verlede jaar in September in ‘n oogwink verander toe hul jongste kind, Kyle, uit die bloute epileptiese aanvalle begin kry het.

Die eerste aanval was ongeveer twee maande voor sy 10de verjaarsdag en daarna het die eindelose doktersbesoeke en soeke na antwoorde begin.

Drie dae ná sy eerste aanval het hy nog een gekry waarna dit binne drie weke van vier aanvalle ‘n dag tot 40 toegeneem het.

Sy diagnose het weekliks verskil van diabeet tot epilepsielyer en sy medikasie is deurgaans verander, maar steeds het Kyle se toestand vererger en het hy daagliks meer en meer aanvalle begin kry.

Dit was eers in Desember ná ‘n besoek aan die Unitas-hospitaal waar hy ‘n MRI-skandering en lumbale punksie ondergaan het, dat hy verwys is na ‘n neurochirurg by die Constantia Berg-hospitaal in die Kaap wat hom met Rasmussen se sindroom gediagnoseer het.

Rasmussen se sindroom is ‘n rare inflammatoriese neurologiese siekte wat aan aanvalle soortgelyk aan epilepsie herken word.

Die siekte wat hoofsaaklik in kinders onder die ouderdom van 15 voorkom, tas een van die breinlobbe aan.

Geen medikasie kan die simptome verlig of die siekte genees nie en die enigste uitweg is om die aangetaste lob te verwyder met die hoop dat die ander lob met tyd die breinfunksies sal oorneem.

Die gesin het verlede week Kaap toe gevlieg waar Kyle opgeneem is ter voorbereiding vir ‘n 16 uur lange operasie wat Dinsdag plaasgevind het om sy linkerbreinlob te verwyder.

Sy pa, Marc, sê terwyl Kyle in die hospitaal was, het hy tot 137 aanvalle wat elk twee tot drie minute duur per dag gehad, maar die ergste was ‘n aanval wat drie en ‘n halfuur lank geduur het.

Hy vertel hoe magteloos hy en sy vrou, Juanita, gevoel het om as ouers toe te kyk en nie in staat was om hul kind enigsins te help nie.

“Dit was soos om ‘n babavoëltjie wat uit die nes geval het, in jou hande te hou, te sien hoe die bekkie oop en toe gaan en net magteloos toe te kyk.”

Die dokters was baie bekommerd oor Kyle se toestand ná die hewige aanval en het sy ouers meegedeel dat daar ‘n moontlikheid bestaan dat hy dalk nie dié aanval sou oorleef nie.

Maar Kyle het steeds bly veg en die aanval oorleef, maar kon glad nie meer praat nie.

Ongelukkig is die operasie nie ‘n wonderkuur nie en sal Kyle vir ‘n geruime tyd nie weer normaal kan sien, praat of loop nie.

Hy sal voortaan 24 uur sorg nodig hê en alles wat mens as vanselfsprekend aanvaar, weer soos ‘n baba van vooraf moet leer.
Melrow Apteek in samewerking met Alan se Slaghuis, Pick n Pay en Spar, hou eerskomende Saterdag (18 Februarie) ‘n geldinsameling om Kyle en sy gesin by te staan in hul stryd teen dié siekte.
Boereworsrolletjies, kolwyntjies en drinkgoed sal onder andere voor die apteek te koop wees en die wins aangewend word om die gesin se geldellike las te verlig.

Diegene wat graag ‘n donasie wil gee kan dit op die dag na Melrow bring of met Jacinda reël vir die rekeningbesonderhede waar geld inbetaal kan word.
Hou die Hoëvelder se webtuiste en volgende week se uitgawe dop vir meer oor Kyle se vordering.

Related Articles

Back to top button