Die Broodryks van Evander is 60 jaar gelukkig getroud

Die sleutel tot Broodryk-egpaar se suksesvolle, liefdevolle huwelik is kommunikasie.

EVANDER – Sestig jaar kan soos ’n leeftyd voel, maar met die regte mens aan jou sy, gaan dit gou verby.

Mnr. Willem en me. Gerrie Broodryk het dit reggekry en vier op 9 Februarie hul 60ste troudagherdenking.

Hulle het bykans 63 jaar gelede ontmoet toe hulle in dieselfde vriendegroep gekuier het.

Die egpaar het begin uitgaan en graag saam gaan dans.

“Ons het altyd na die Velskoen op Krugersdorp gegaan en ek kon op my dag baie goed dans,” het mnr. Broodryk gesê.

“Gerrie kon nie rêrig dans nie,” het hy sy vrou geterg.

Nadat die groep vriende weer gaan dans het, het mnr. Broodryk haar eenkant geneem om ’n belangrike vraag te vra.

“Ek het haar ’n entjie weggeneem en gesê ek dink ons moet trou.

“Sy het dadelik ja gesê, maar het vasgestaan dat sy eers haar opleiding as verpleegster wou voltooi.”

Me. Broodryk het oor hul troudag in 1957 gesê: “Ons het nie ’n groot troue gehad nie en kon net die saal waar ons getrou het tussen 3nm en 6nm kry,

“Ons was van plan om daarna saam met al ons vriende by die Velskoen te gaan kuier.”

Mnr. Broodryk het verder vertel: “Ons twee ry toe pasgetroud en met ’n motor vol kos en drank om ons vriende by die dansplek te ontmoet en ry toe reg in ’n wolkbreuk in.

“Daardie jare was die motors nie soos nou nie en myne het gaan staan omdat dit water ingekry het.”

“Daar staan ons toe in die reën met ’n stukkende motor en geen manier om ons vriende te kontak nie.

“Goeie seuntjie wat ek was, het ek nie eers daaraan gedink om te begin eet en drink nie,” het mnr. Broodryk geskerts.

Hulle het etlike ure gewag totdat iemand gehelp het om die motor in te sleep, maar hulle het nooit daardie aand by die Velskoen uitgekom nie.

Mnr. Broodryk het as ketelmaker by ’n myn gewerk en me. Broodryk het “seker ’n derde van die babas in die Teksgebied gevang”, terwyl sy as verpleegster gewerk het.

Hulle woon al 50 jaar in dieselfde huis op Evander.

Hoogtepunte uit die egpaar se meer as 60 jaar saam, sluit die geboorte van hul kinders in.

“Ons het ’n dogter, twee seuns, sewe kleinseuns en agt agterkleinkinders.”

Die sleutel tot hul suksesvolle, liefdevolle huwelik is kommunikasie.

“Praat net met mekaar oor alles, sodra iets jou pla, praat dit uit,” het mnr. Broodryk gesê.

Dié raad het hulle ook met hul kinders gevolg en die gesin het graag tot laat saans saam gesit, gesels en gelag.

“Ons is heel beste vriende en ek glo daar is drie dinge nodig vir ’n goeie verhouding: liefde, praat en vrede, want as jy dié drie dinge het, sal die vreugde volg.”

Die Broodryks ondersteun mekaar en werk soos ’n span saam.

“Toe ek as verpleegster nagskof gewerk het, moes Willem kook, kinders oppas en sorg dat alles by die huis reg is.”

Mnr. Broodryk het saamgestem: “Ons het geen ander keuse gehad as om ’n span vir ons kinders te wees nie, anders sou ons nie die mas opgekom het nie.”

Hul dogter, me. Marietha McSeveney, het gesê die familie is dankbaar vir hul ouers se goeie huwelik.

“Hulle is vir ons ’n goeie voorbeeld van liefde, deernis en respek.

“Dit is heerlik om te sien hoe jou ma en pa hand aan hand op die plaas loop en na al die jare nog so lief vir mekaar is.”

Die Broodryk-egpaar leef nog ’n sinvolle lewe en is lief vir die natuur.

Hulle gaan hul 60ste huweliksherdenking eerskomende naweek saam met familie vier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version