Swak diens by bestuurslisensiekantore los inwoners raadop

Die diens by die Secunda-bestuurslisensiekantore is swak.

SECUNDA – Lang rye sonder sitplek of skuiling teen son en reën, swak diens, ongeskikte amptenare en oneerlikheid en korrupsie.

Dié is van die klagtes wat die Echo die afgelope paar maande oor die Secunda-bestuurslisensiekantore ontvang het.

’n Ongelukkige inwoner wat anoniem wil bly, het verskeie probleme by dié kantore opgetel toe sy ’n maand gelede daarheen gegaan het om haar motorfietslisensietoets af te lê.

“Ek moes die afgelope ruk gereeld dokumente by die lisensiekantore ingee of afsprake probeer maak, en die situasie was elke keer dieselfde.

“Daar is rye mense van vroegoggend af voor die deure omdat daar nie genoeg stoele binne in die gebou se klein ingangsportaaltjie is nie.

“Ouer mense en vroue met kinders staan buite in die wind en weer of skoeiende son en daar is nie ’n stoel of afdak in sig nie.”

Sy het verduidelik dat ’n man dan met ’n lys uitkom en sekere mense se name op die lys skryf, maar dit gebeur glo sonder enige verstaanbare proses.

Mense gaan dan in en moet hul oë laat toets.

“Ek het gesien hoe ’n baie ou vrou haar oë probeer toets het, maar sy kon nie die tegnikus wat die toetse doen, verstaan nie.

“In plaas daarvan om haar tegemoet te kom en die proses te verduidelik, was hy ongeskik met haar, het haar basies uitgejaag en gesê sy moet na ’n oogkundige gaan.”

Verdere probleme sluit in dat mense nie ingelig word oor watter dokumentasie hulle benodig nie voordat hulle nie voor in die ry is nie.

“Daar is nie ’n inligtingskantoor of plakkate wat vir jou sê presies hoeveel afskrifte van wat jy nodig het vir die verskillende dienste nie.

“Dit beteken dat mens soms twee of drie keer moet teruggaan en weer in die ry moet staan.”

Govan Mbeki Munispaliteit is om kommentaar genader oor dié kommerwekkende aantuigings, maar die koerant het teen druktyd nog niks ontvang nie.

Die Echo het in Oktober verslag gedoen oor werknemers van die bestuurslisensiekantore wat deur die Valke in hegtenis geneem en aangekla is van korrupsie.

Me. Thulile Nkonde (32), ’n toetsbeampte, me. Deborah Thompson (55), ’n klerk, en mnr. Hezekiel Mofokwane (33), senior klerk, is op 18 Oktober in hegtenis geneem.

Hulle het in die Benoni Landdroshof verskyn waar die vroue se borgaansoek geweier is.

Mnr. Mofokwane is op ’n duisend rand borgtog vrygestel.

Hulle het glo omkoopgeld ontvang van mense wat hul toetse vir hul leerlingbestuurslisensies gedruip het, of van mense wat hul bestuurslisensies wou bekom het sonder om getoets te word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version