Local newsNews

Marius vra die publiek se hulp

Hoewel mnr. Marius Cornelissen van sy heupe af verlam is, geniet hy dit om op sy vierwielmotorfiets te ry.

BETHAL – Mnr. Marius Cornelissen was in 2003 in ’n motorongeluk, waarna hy vanaf sy heupe verlam is.

Omdat hy die rolstoel wat hy tans gebruik ontgroei het, moet hy ’n nuwe rolstoel kry wat volgens sekere spesifikasies aangepas moet word.

Mnr. Cornelissen het nie ’n mediese fonds nie.

Hy kon nie sy studies na die ongeluk voltooi nie en herstel nou rekenaars van die huis af.

Dié inkomste is egter nie genoeg om ’n rolstoel te koop nie en hy het die publiek, ondernemings en mediese instansies om hulp gevra.

Mnr. Cornelissen was saam met medestudente na ’n technikon op Newcastle op pad.

“Ek kan net onthou die bestuurder het die motor in tweede rat gesit en die motor het gegly en ’n lamppaal getref.

“Ek het eers in die hospitaal wakker geword en agtergekom dat my bene nie werk nie.

“Omdat ek nie ’n mediese fonds het nie, is ek in ’n staatshospitaal opgeneem.

“My ma het my van my kinderdae af geleer dat ek my vriende moet reg kies en haar woorde het na die ongeluk deur my kop gemaal,” het mnr. Cornelissen vertel.

Hy het gesê die studente waarmee hy gery het, het alkohol gedrink en die bestuurder van die motor was reeds vroeg onder die invloed.

Mnr. Cornelissen se L1-werwel het versplinter en in die rugmurg van sy T12-werwel gesteek.

Dit het veroorsaak dat hy verlam is.

“Ek is na drie dae na die King George Hospitaal in Durban oorgeplaas.

“Hulle het my op ’n houtplank vasgemaak en met ’n ambulans vervoer.

“Ek kon elke hobbel en gat waaroor ons gery het, voel en dit was bitter seer,” het hy vertel.

Mnr. Cornelissen het ’n rugoperasie ondergaan en slegs ’n week in die hospitaal gebly.

Die hospitaalpersoneel het die krammetjies uit sy wond getrek op die oggend van sy oorplasing na die rehabilitasiesentrum.

Die wond was nog oop en mnr. Cornelissen was veronderstel om langer in die hospitaal te bly.

Hy het by die rehabilitasiesentrum geleer hoe om van die bed af in die rolstoel te klim, hoe om te stort en self oor die weg te kom.

Die rehabilitasie het vir mnr. Cornelissen nuwe uitdagings gebring.

“Een van die vorige pasiënte het ’n rekord opgestel en is binne agt weke ontslaan.

“Ek het ’n pasiënt daar ontmoet wat my alles van ’n rolstoel geleer het, soos hoe om in en uit te klim sonder iemand se hulp en om dinge self te doen.

“Ek het toe die agt weke rekord verbeter en is binne ses weke huis toe gestuur.

“Dit was die grootste uitdaging vir my en ek wou daardie rekord verbeter.

“Almal, selfs die fisioterapeut het vir my gelag en my sleg gesê.

“Sy het vir my vertel dat ek dit nooit sal kan regkry nie,” het hy verduidelik.

Na die rugoperasie was mnr. Cornelissen swak en kon nie die 10kg-gewigte by die rehabilitasiesentrum optel nie.

Met ’n nuwe rekord in sig, het hy harder as enige pasiënt gewerk om weer sterk te word.

Hy het besluit dat hy homself nie gaan bejammer nie.

Selfs die professor wat oor hom aangestel was, kon nie glo dat hy so vinnig herstel het nie.

Mnr. Cornelissen woon tans saam met sy suster in ’n huis.

“Ek het my broer in 2011 aan die dood afgestaan en my ma het in 2013 haar stryd teen kanker verloor.

“My pa is dood toe ek 10 jaar oud was.

“Ek sal altyd eers self probeer om iets te doen en wanner ek dan nie regkom nie, sal ek vir hulp vra.”

Mnr. Cornelissin maak self sy huis skoon, berei kos voor en ry boonop steeds op sy vierwielmotorfiets.

Hy wil nie ’n elektriese rolstoel hê nie omdat hy steeds sy arms kan gebruik.

Die stoel wat hy nou het, ondersteun nie sy rug soos dit moet nie en die wiele is ook besig om onklaar te raak.

“Met ’n nuwe rolstoel sal ek baie makliker vloere kan vee en was en ander take verrig.”

Skakel mnr. Conrnelissen by 078 365 2145 as jy hom kan help.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button