Brenda se passie vir tale kom al van kleins af

As provinsiale vakadviseur vir Afrikaanse, kry me. Brenda Mettler die geleentheid om haar passie vir tale uit te leef.

SECUNDA – Me. Brenda Mettler het reeds vroeg in haar lewe besef dat onderwys en die oordra van kennis aan jong kinders haar passie is.

“Ek was nog nie in die hoërskool nie toe het ek al Sondagskoolklasse aangebied het.

“Dit het my oë oopgemaak en ek het besef dat ek graag ’n onderwyser wou wees.”

Me. Mettler het na matriek onderwys aan die onderwyskollege in Oudshoorn studeer en daarna by ’n plaasskooltjie skool gegee.

“Ek was skaars 21 jaar oud toe ek al verantwoordelikheid vir ’n hele klas moes neem. ”

Sy het verduidelik dat dié ondervinding baie anders is as wat jong onderwysers deesdae ondervind.

“Die plaasskooltjie het destyds leerlinge van meer as een graad in een klas, deesdae multi-graad klas genoem, gehad.

“Ek moes skielik al die vakke van drie grade gee én sorg dat elke kind genoeg aandag en stimulasie kry.

“Gelukkig het my opleiding by die onderwyskollege my baie goed daarvoor voorberei.

“Die kollege het nie net op teorie gefokus nie, maar ook op praktiese opleiding en ek het maklik by dié multi-graad plaasskool aangepas.”

Me. Mettler het daarna op George skoolgegee en moes weer aanpas om by haar omgewing in te pas.

“Ek het al iets van alles gedoen en hoewel ek nooit naaldwerkklasse gehad het nie, was ek toe ook die naaldwerkonderwyser.

“Ek moes baie nuwe goed vinnig aanleer en ek het nog nooit nee vir ’n uitdaging gesê nie.

“Ek het al selfs vir seuns sokker en rugby gegee, maar my passie het van dag een af by tale gelê.”

Me. Mettler het haar plig as onderwyser nog altyd ernstig opgeneem en is bewus van die positiewe invloed wat ’n toegewyde onderwyser op ’n jong leerling kan hê.

“Ek onthou toe ek op skool was hoe my Afrikaanse en Engelse onderwysers my liefde vir tale raakgesien en help ontwikkel het.

“My Engelse juffrou was nuut in die land, direk vanaf Brittanje, en al was ons ’n Afrikaanse skool. kon sy nie ’n woord Afrikaans praat nie en sy het my altyd gevra om haar boodskappe in Afrikaans oor te dra.

“My Afrikaanse onderwyser het op sy beurt ’n paar van ons laat opstelle skryf en dit vir ’n kompetisie ingeskryf en voor ek my kon kry, is ek op die verhoog geroep om my prys te ontvang.”

Me. Mettler is deesdae die provinsiale vakadviseur vir Afrikaans en deel van haar verantwoordelikheid is om as senior onderwysspesialis seker te maak dat die voorgeskrewe kurrikulum vir gr. 4 tot gr. 9 geïmplimenteer word.

Behalwe vir haar passie vir Afrikaans, voel me. Mettler ook sterk oor onderwys vir kinders met leerstruikelblokke.

“Daar is deesdae baie druk op onderwysers om deur die kurrikulum te werk en dit is maklik vir kinders wat op ’n ander manier of teen ’n ander tempo leer, om oorgesien te word.

“Onderwysers het lank gelede huisbesoek gedoen.

“As ’n kind lank afwesig was of gesukkel het, is jy na sy huis toe en op só ’n manier het jy vinnig die kinders in jou klas leer ken en verstaan wat hul sosiale en ekonomiese agtergrond was.”

Me. Mettler het vertel hoe sy gereeld vir haar klas ’n paar lewenslesse probeer leer het en moeite gedoen het om na kinders uit te reik sodat hulle gevoel het dat daar ’n volwassene is wat omgee en na wie hulle met probleme kon gaan.

Me. Mettler is nie meer in die klaskamer nie, maar glo steeds dat sy die geleentheid het om haar kennis en ondervinding in die onderwyswêreld terug te ploeg.

“Die pad wat ek geloop het, het my vir my rol as vakadviseur voorberei omdat ek die terugslae en uitdagings wat onderwysers vandag nog het, verstaan.

“Ons het vandag nog skole waar verskillende grade in een klas sit, waar onderwysers met min hulpbronne kinders moet stimuleer en waar kinders met verskillende sosio-ekoniese agtergronde akkommodeer moet word.”

Me. Mettler se raad aan jong leerlinge, onderwysstudente en onderwysers is eenvoudig: “Ons land het ’n tekort aan toegewyde onderwysers.

“Onderwys is ’n eerbare beroep wat ’n ongelooflike belangrike rol in die samelewing vervul.

“Jy gaan dalk nie skatryk word in dié beroep nie, maar jy gaan ’n verskil maak.

“Moet nie teen jou salaris vaskyk as jy begin werk en dink jy is nou opgelei nie.

“Bly nuuskierig, bly wakker en moet nooit ophou leer nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version