Spelfees is sleutel tot taalsukses

Leerlinge van gr. 4 tot gr. 9 het onlangs aan die Gert Sibande Distrik se Afrikaanse Spelfees deelgeneem.

SECUNDA – Die Departement van Onderwys het onlangs ’n Afrikaanse Spelfees aangebied vir leerlinge van die hele Gert Sibande Distrik van gr. 4 tot gr 9.

Me. Brenda Mettler, vakadviseur vir Afrikaans, het verduidelik hoe dié spelfees gewerk het: “Daar was drie fases met die eerste fase wat by die skole self gehou is en waar die leerlinge net intern deelgeneem het.

“Die tweede fase was waar leerlinge in hul onderskeie kringe deelgeneem het en die derde fase was die eindronde waar leerlinge van die distrik teen mekaar deelgeneem het.”

Me. Mettler se droom is om die spelfees uit te brei en binnekort ’n nasionale kompetisie te maak.

“Ek wil ook graag daarby uitkom dat skole honderd persent deelname het sodat elke kind ten minste in die eerste fase deelneem.”

Leerlinge neem in verskillende kategorieë deel, afhangende van of hul huistaalsprekers of eerste addisionele taalsprekers is.

“Skole moet ook besef dat dié projek hier is om te bly.

“Die spelfees is daar om leerlinge se belangstelling in taal en spelvernuf te bevorder.”

Deur aanhoudende blootstelling kan leerlinge se kreatiewe denke, spelling, skryfstyl en leesvermoë verryk.

Wat die spelfees uniek maak, is dat elke graad ’n spesifiek aangepaste spellys gekry het wat verseker dat die kompetisie regverdig is.

“Die spellyste sal ook help om jong kinders se woordeskat en taalgebruik op te skerp en ons is van plan om van volgende jaar af te probeer om ook die gr. 3 en gr. 10 tot gr. 12 leerlinge betrokke te kry.”

Me. Mettler het verduidelik dat so ’n spelfees moeilik vir gr. 1 en gr. 2 leerlinge sal wees omdat hulle meestal nog woorde uitklank en nie spel nie.

Die afgelope fees was ’n sukses met leerlinge wat geskrewe speltoetse geskryf het én hardop op die verhoog voor die beoordelaars moes spel.

Me. Mettler is opgewonde oor die volgende spelfees, maar het gesê dat geld altyd ’n probleem is.

“Ons sal graag vir elke deelnemer ietsie wil gee, soos ’n pet of ’n t-hemp, en seker maak dat die organisasie van die hoogste gehalte bly.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version