Goed bedoel, maar nie welkom

"Afriforum maak 'n verskil in padveiligheid omdat die munisipaliteit dit nie doen nie, dan wil hulle ons keer."

‘n Herrie het byna verlede week losgebars tussen werkers van Afriforum en Msukaligwa se direkteur van veiligheid, mnr. Daniel Maluleke.

Die AfriForum-tak, Ermelo het as deel van dié organisasie se Maand van Selfstandigheid-veldtog, wat spesifiek op padveiligheid fokus, drie kruisings, twee voetoorgange en drie spoedhobbels in die dorp geverf.

Volgens die Afriforum-kontrakteurs, mnre. Tienie de Beer en Ephraim Mpokhane, het mnr. Maluleke daar opgedaag terwyl hulle besig was om hul taak te verrig.

“Nadat hy vir Ephraim beveel het om uit sy pad te kom en ‘n foto van die Afriforum-trok geneem het, het hy vir ons gesê dat niemand toestemming het om hier te wees nie.

Daarna het hy vir ons gesê Afriforum en die witmense moet op die plaas gaan werk, hulle het niks in sy dorp verloor nie,” vertel hulle.

Volgens die voorsitter van Afriforum, Ermelo, mnr. Johan van der Wath, is dié veldtog van stapel gestuur nadat die bevinding van ‘n veiligheidsoudit dat sommige van die paaie nie aan die minimum vereistes voldoen nie, soos in toepaslike wetgewing en regulasies uiteengesit word.

Mnr. Johan Weber, Afriforum se streekskoördineerder, Mpumalanga-Oos, het op mnr. Maluleke se optrede gereageer deur te sê dat die munisipaliteit nie hulle werk doen nie en dat Afriforum veiligheid in die dorp wil bevorder.

“Afriforum maak ‘n verskil in padveiligheid omdat die munisipaliteit dit nie doen nie, dan wil hulle ons keer. Wys net waar hul prioriteite lê,” het mnr. Weber gesê.

Volgens mnr. Weber het hulle nie toestemming van ‘n munisipaliteit nodig vir die herstelwerk nie. Hoewel hulle in die verlede skrywes aan die munisipaliteit gerig het, was dit bloot uit hoflikheid en nie omdat hulle wetlik verplig is nie.

Mnr. Weber verwys na skrywes wat in Mei vanjaar aan die munsipaliteit gerig is om hulle in te lig oor die slaggatherstelprojek waarmee hul besig was, en tot vandag toe nog nie ‘n antwoord daarop ontvang het nie.

Mnr. Weber kon nog nie bevestig of verdere stappe rakende die voorval gedoen sal word nie.
In ‘n verklaring van mnr. Maluleke sê hy dat enigeen wat die munisipaliteit wil help met veral padmerke en die vervanging van padtekens, hulle van hul voorneme moet inlig.

Mnr. Maluleke ontken die aantygings oor die opmerkings wat hy na bewering gemaak het en sê verder dat hy saam met “witmense” grootgeword het, mense wat hy beter ken en verstaan as enige iemand, maar hy hou vol dat Afriforum nie die munisipaliteit se verantwoordelikheid kan oorneem nie.

Hy ontken ook dat hy met Ephraim gepraat het. Volgens hom was die gesprek tussen hom en die ouer man.

Mnr. Maluleke het afgesluit deur te sê dat voornemende helpers eers ‘n brief aan die munisipale bestuurder moet rig om hom in te lig oor wat hulle beplan.

Die munisipale bestuurder sal dan op sy beurt die inligting aan die betrokke direkteur stuur, wat dan weer die munisipale bestuurder oor sy besluit sal inlig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version