Onsekerheid oor opruiming van ongelukstonele

“Soos ek dit verstaan moet die brandweer na die ongelukstoneel gaan, seker maak dat die voertuie veilig is, die batterye ontkoppel is en sodra die wrakke verwyder is, sorg dat die padoppervlak skoon is.”

SECUNDA – Plaaslike inwoners is onseker oor wie verantwoordelikheid moet neem vir die opruiming van ongelukstonele.

Volgens ’n bekommerde inwoner, is dit die brandweer se verantwoordelikheid.

“Soos ek dit verstaan moet die brandweer na die ongelukstoneel gaan, seker maak dat die voertuie veilig is, die batterye ontkoppel is en sodra die wrakke verwyder is, sorg dat die padoppervlak weer skoon is.

“Daar is ’n spesifieke produk wat soos ’n soort stowwerige saagsel is wat op olie- en brandstofkolle gegooi moet word.

“Die saagsels moet dan opgevee word sodra dit al die olie of brandstof geabsorbeer het.”

Die onsekerheid het byna tot groot skade gelei Saterdag, 8 Oktober toe ’n vragmotor wat glo ’n industriële roller vervoer het, bykans 60 liter hidroliese olie by die Charl Cilliersstraat en Oliver Thamboweg-kruising gemors het.

Volgens ’n persoon wat verlede Saterdagoggend op die toneel was, het hy meer as ’n uur en ’n half vir die nooddienste gewag om op te daag.

Hy het omstreeks 10vm ’n oproep ontvang oor die olie op die pad en motors wat gly.

“Ek het gery om te gaan kyk voordat ek die nooddienste geskakel het, omdat ek weet mense kan soms oordryf en ek wou nie iemand se tyd mors nie.

“Ek het aanhou skakel, maar die nooddienste was glo almal besig met ’n demonstrasie en kon eers later uitkom.

“Teen daardie tyd het twee voertuie al sleg gegly en dit was net ’n kwessie van tyd of daar sou ’n ongeluk wees.”

Die persoon het besluit om een van sy eie voertuie te ontbied met ’n vrag sand om die oliekol te absorbeer.

Die koerant was teen 10.40vm op die toneel.

’n Brandweervoertuig van eMbalenhle af opgedaag, maar dié voertuig het nie die regte toerusting gehad om die padoppervlak op te ruim nie.

Daar was teen 11vm steeds nie noodpersoneel op die toneel nie, maar die voertuig met die vrag sand het opgedaag en drie mans het saamgewerk om die oliekol toe te gooi.

Die onsekerheid oor die opruiming van ongelukstonele het weer Maandag, 10 Oktober kop uitgesteek.

’n Voertuig het tussen eMbalenhle en Secunda gerol waartydens een man dood en vier ander beseer is.

Die wrak is weggeneem, maar teen 11 Oktober was daar nog glas en olie of brandstof op die padoppervlak.

Die Secunda Brandweerstasie is Dinsdagoggend gekontak vir dringende kommentaar en die stasiebevelvoerder het bevestig dat hy so gou as moontlik ’n afspraak met die koerant sal maak sodat die publiek en die nooddienste agter die kap van die byl kan kom en die onsekerheid opgeklaar kan word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version