Local newsNews

Blom se kort lewe herinner daaraan om dankbaar te wees

Mnr. Org Solms sien die blomme van sy kaktus wat net drie dae per jaar blom, as ’n simbool van hoop en nuwe geleenthede.

SECUNDA – Mnr. Org Solms is ’n kranige tuinier en woon bykans 40 jaar op Secunda.

Hy het ’n kaktus in sy tuin wat net drie dae per jaar blom en het die Ridge Times genooi om foto’s van dié plant se blomme te neem.

“Ek het dié plant al sowat nege jaar en dit het twee jaar geneem om die eerste keer te blom.”

Mnr. Solms was egter eers skepties oor die plant.

“Ek het dit by ’n man gekry wat al die vetplante en kaktusse uit sy tuin wou haal en was van plan om alles weg te gooi.

“Ek het die lelike droë plant gesien en het reeds bykans 200 vetplante in ’n bedding in my agterplaas gehad en wou nie die lelike plant tussen die ander plant nie.”

Hy het dit in die hoek van sy agterplaas geplant en byna daarvan vergeet.

“Sowat ’n jaar later het ek opgemerk dat ou ‘verleppie’, soos ek dié plant genoem het, begin knoppies uitstoot.

Vyf dae later het die plant vir ’n verrassing gesorg met pienk, wit en geel blomme.

“Dit was die mooiste wat ek nog gesien het en was ’n fees vir my oë.

“Die Here het dadelik vir my ’n les geleer, want ek was daaraan skuldig dat ek maklik iemand op sy uiterlike kon beoordeel sonder om te besef dat hulle pragtig van binne is.

“Die blomme hou gewoonlik net drie dae,en gaan op die eerste dag oop, is op hul mooiste op dag twee en verlep dan op dag drie.

“Die plant blom gewoonlik laat in September wat spesiaal is, want dit is my en my vrou se huweliksherdinking, so ons noem dit ons ‘geskenkie’.”

Die blom was egter vanjaar vir mnr. Solms van besondere simboliese belang.

“Ek is sowat ’n jaar gelede met kanker gediagnoseer en moes intensiewe mediese behandeling ondergaan en het bykans 15kg verloor.

“Ek is deur chemoterapie en ’n operasie.

“My siekte en my ondervindinge die afgelope jaar het gemaak dat ek deesdae baie ‘sagter’ is.”

Na ’n ingrypende operasie op 25 Januarie, is mnr. Solms kankervry verklaar en presies agt maande later, op 25 September, het die kaktus weer geblom.

Dié sameloop van omstandighede word nie deur mnr. Solms misgekyk nie.

“’n Mens moet met oop oë deur die lewe gaan en elke dag waardeer vir die geleentheid wat dit is.

“Nie almal is gesëend genoeg om die lewe ten volle te kan ervaar nie.

“Die Here se skepping is só mooi en ek meen dit is elke mens se plig om dié mooi met ander mense in jou lewe te deel.”

Mnr. Solms sien die nuwe blomme op die plant as die begin van die volgende hoofstuk in sy lewe.

“Ek is lief vir tuinmaak, maar die afgelope jaar was moeilik en die tuin is nie so mooi soos gewoonlik nie, maar nou sal ek weer werk en sorg dat ek die skoonheid van die natuur opnuut waardeer.”

“Ek weet nie wat die naam van die blom is nie, maar ek is rustig daaroor want ek ken die naam van die Skepper wat dié stukkie paradys in my tuin laat blom het.”

“Na my siekte het ek met ander oë na die plant gekyk en geweet ek kan dit nie net vir myself hou nie.

“’n Mens kan nie terugkyk nie, want dit kan niks verander nie, en mens kan ook nie te ver vooruit kyk nie, want jy weet nie wat vir jou voorlê nie, so leef so goed as jy kan op die dag wat vir jou gegee is en kyk altyd op, want dit is waar jou hulp vandaan kom.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button