Madeleine kom verandering tegemoed

Onder leiding van me. Madeleine Ehlers, is Jim van Tonderskool een van die skole in Mpumalanga wat bly groei en vorentoe beweeg.

BETHAL – Jim van Tonderskool onder leiding van me. Madeleine Ehlers, is een van die skole in Mpumalanga wat bly groei en vorentoe beweeg.

Sy is sedert 1988 by Jim van Tonderskool betrokke, eers as onderwyser en later as departements- en adjunkhoof.

“Ek is nie bang vir verandering nie en verwelkom altyd nuwe idees.

“Dit is belangrik vir ’n skool om nie te stagneer nie.

“Wanneer ek terug kyk, kan ek die hand van die Here oral in my lewe sien,” het me. Ehlers gesê.

Die pos as skoolhoof is in 2013 aan haar toegeken.

Sy het haar hoëronderwysdiploma aan die Universiteit van Potchefstroom gekry en by Jim van Tonderskool begin werk

“Ek dadelik geweet dat dit is wat ek wou doen en kyk nie een dag terug nie.

“Dit is vir my baie lekker om spesiale onderrig toe te pas.

“Ons het die mag in ons hande om kinders vir die toekoms voor te berei,” het me. Ehlers vertel.

Sy het in 2012 en 2013 met haar honeurs in onderwysbestuur, -reg en -beleide begin.

“Ek het by Tukkies buitemuurs studeer en moes naweke en vakansies na Pretoria ry om klasse by te woon.

“Dit was ’n moeilike tyd en ek moes vasbyt om klaar te maak omdat ek intussen waarnemende hoof was,” het sy verduidelik.

Ten spyte van die struikelblokke wat sy moes oorkom, het sy haar honeurs met lof geslaag.

Sy het van die begin af van spesiale onderwys gehou en het ’n passie daarvoor.

“Om skoolhoof te wees, het sy eie uitdagings, maar ek mis die interaksie met die kinders.

“Ek probeer om soveel as moontlik betrokke te wees en toer gereeld saam met die kinders en woon atletiekbyeenkomste by,” het sy gesê.

Me. Ehlers het vertel dat mnr. G. P. Botha, ’n voormalige hoof van Jim van Tonderskool, haar rolmodel was en dat sy baie by hom geleer het.

As onderwyser was sy by netbal, atletiek en hokkie en het self ook hokkie gespeel.

“Dit is ook vir my lekker dat Jim van Tonderskool weer lewe in die Plaasjuppiefees kon blaas.

“Ons skool se personeel is ’n ondersteunende span en sonder hulle sal ons skool nie alles kan bereik wat ons tans bereik nie,” het sy vertel.

Die skool se volgende grootste droom is om ordentlike sportgeriewe te bou.

Jim van Tonderskool is ook tans met ’n “Go Green”-projek besig.

Die skool bied ook op 15 Oktober hul gholfdag op Bethal aan.

’n Gesegde van oud-president Nelson Mandela is wat me. Ehlers positief hou en laat streef na beter: “Education is the most powerful weapon which you can use to change the world.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version