Local newsNews

Riaan lewe nou vir elke dag

Hy is met krom groottoontjies gebore en dokters het nie geweet wat die oorsaak daarvan is nie. ’n Dokter het steeds vir Riaan geopereer hoewel hulle nie seker was wat fout is nie.

BETHAL – Riaan Erasmus was net ses weke oud toe hy ’n operasie ondergaan het.

Hy is met krom groottoontjies gebore en dokters het nie geweet wat die oorsaak was nie.

“Hy moes vir ses weke gips dra, maar toe die gips afgehaal is, was die tone steeds krom,” het me. Cathy Erasmus vertel.

Knoppe het agter sy kop begin vorm toe Riaan ’n jaar oud was.

Hy het gesê: “’n Knop sou aan die een kant van my kop wees en die volgende dag weg wees, maar dan het ’n ander knop op ’n ander plek gevorm.

“Ek het eendag van die skool af gekom en vir my ma gesê dat my rug seer was.

“Daar was toe reeds ook ’n groot knop op my rug,” het Riaan vertel.

Die knop op sy rug was so groot soos ’n gholfbal en was rooi en warm.

Die volgende dag was die knop so groot soos ’n rugbybal.

Hulle het dadelik ’n dokter gaan sien wat ’n biopsie gedoen het.

Die uitslae was negatief vir kanker en niemand het geweet wat fout was nie.

“Ons het van die een dokter na die volgende gery,” het me. Erasmus gesê.

“Daar is nie ’n dokter in die land by ons nog nie was nie.”

Hulle het later van ’n dokter gehoor wat by die militêre hospitaal werk.

Hy het genoem dat hy al van die siekte gehoor het, maar dat hy dit nog nie self gesien het nie.

Riaan is met Fibrodysplasia ossificans progressiva (Fop) gediagnoseer.

Fop is ’n siekte waar spier- en bindweefsel soos senings en ligamente geleidelik vervang word deur been (ossifikasie).

Die vorming van been buite die geraamte, ekstra skeletale of Heterotopiese been, beperk beweging baie.

Die dokter het gesê dat hulle moet wag dat die siekte “bedaar” en Riaan moes vir drie maande daagliks 2 000mg antibiotika drink.

“Kinders het my baie geboelie, gespot en seergemaak op laerskool.

“Ek kon my arms glad nie meer gebruik nie en kon daarom nie keer wanneer ek geval het nie.

“Kinders het gedink dat dit baie snaaks was om my om te stamp.

“Omdat ek nie met my arms kon keer nie, het hulle my bykans daagliks gestamp en ek het byna elke keer my kop gestamp.

“Ek het só harsingskudding opgedoen en in die hospitaal beland,” het Riaan verduidelik.

Die laaste keer toe Riaan en sy ma navorsing gedoen het, was daar slegs 600 gevalle wêreldwyd van Fop aangeteken.

Fop kom in alle rasse, nasies en lande voor.

“Ek was nog nie een dag depressief oor my omstandighede nie, maar ek het al kwaad geword omdat ek nie motorfiets kan ry soos ek wil nie.

“Ek kyk nie in die negatiewe vas nie en leef elke dag voluit,” het Riaan vertel.

Daar is tans nie medikasie of ’n operasie wat Riaan kan help nie.

Hy en sy ma leef van dag tot dag.

Riaan is lief vir musiek en wil graag eendag sy eie rekenaarprogramme en selfoonapplikasies skryf.

Hy het op skool koor gesing en is lief daarvoor om sy lyf platejoggie te hou en musiek te maak waar mense dans en kuier.

Related Articles

Back to top button