Kian-Andrew danksy inseminasie gebore

“Ek het my hele lewe lank vir ’n kind gebid en nou het my droom waar geword.”

SECUNDA – Me. Lisa Posthumus kon danksy inseminasie op 17 Augustus geboorte aan ’n gesonde seuntjie gee.

Kian-Andrew was 50cm lank en het 3.5kg geweeg by geboorte.

Hy is op 37 weke gebore.

Me. Posthumus wou kinders gehad het vandat sy kan onthou.

Sy is tans ongetroud en het besluit dat sy graag ’n kind wou hê.

Haar oupagrootjie is 88 jaar oud en het ook spesiaal vir die baba se geboorte deurgekom.

“Ek het al ’n hele paar jaar gedink dat inseminasie die antwoord is.

“Ek het dit aan my ouers genoem en hulle het ingestem dat dit die regte besluit is.

“Ondersteuning van my ouers, my suster en van alle kante af het ingestroom,” het me. Posthumus vertel.

Sy het op 9 en 10 Desember vir inseminasie in Johannesburg gegaan.

Omdat sy aan die polisistiese ovariale sindroom ly, het sy gedink dat sy dalk nie swanger kan raak nie.

“Daar is baie vroue wat dink dat hulle nooit sal kan swanger raak nie weens dié sindroom.

“’n Mens moet egter probeer en inseminasie is ’n goeie en veilige opsie.

“In die tyd wat ek vir die inseminasie gegaan het, was daar 104 ander vroue wat ook vir dieselfde prosedure gegaan het.

“Van al dié vroue was ek die derde persoon wat die eerste keer swanger geraak het na die eerste inseminasie.

“Ek het my hele lewe lank vir ’n kind gebid en nou het my droom waar geword.

“Ek weet nie wat die toekoms inhou nie en sal graag nog ’n kind wil hê, al is dit weer deur inseminasie,” het me. Posthumus vertel.

Elke profiel waarvan sy kon kies, was bykans 15 bladsye lank.

Alles is in dié profiele opgeteken.

Die geskiedenis van die skenker se gesondheid word sover as tot die grootouers opgeteken.

Me. Posthumus was aangetrokke tot haar skenker se haarkleur en oë, sowel as sy lengte.

Sy het gesê mense moet weet dat daar baie verskillende opsies is om kinders te kan hê en dat mense nie net in die ou maniere moet vaskyk nie.

“Ek wil dankie sê vir my ouers, my suster en familie wat my sedert die eerste dag ondersteun het,” het me. Posthumus gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version