Local newsNews

Vrou se lewe is ’n getuienis van die Here

“Hier is soveel wonderlike mense met fantastiese stories op Bethal.”

BETHAL – Me. Anabelle Scholtz het reeds vroeg in haar lewe geleer om op God te vertrou.

Haar ma is dood toe sy net sewe jaar oud was.

Nadat sy gr. 12 geslaag het, het sy na die Kaap gegaan om sendingwerk te gaan doen.

Me. Scholtz het saam met past. Pietie Victor gewerk.

“Dit was ’n baie moeilike jaar vir my.

“Dit was die eerste keer wat ek so ver van die huis af was en daar was ook nie baie finansiële ondersteuning nie.

“Ek was geruk aan die een kant en het tog ook myself daar leer ken,” het me. Scholtz vertel.

Sy en ander sendelinge het straatwerk in die Kaap gedoen en snags buite nagklubs gewag en met jong mense oor die Bybel gepraat.

“Ons het selfs met sataniste en prostitute gepraat.

“Ek het daardie jaar geleer om volkome op die Here te vertrou.

“Wanneer ons huis toe kon gaan, was daar altyd geld vir my om my reiskoste te dek.

“My lewe is net ’n getuienes van die Here.

“Ek is aan geleenthede blootgestel wat ek nooit gedink het ek sou kon doen nie.

“As klein dogtertjie was ek baie bang vir ’n tandarts.

“Ek onthou met my eerste besoek aan ’n tandarts, het ek my voete teen die tandarts se maag geskop sodat hy nie naby aan my kon kom nie.

“Nadat ek teruggekeer het van die Kaap af, het ’n vriendin my vertel dat daar ’n onderneming is wat mense gesoek het om as tandtegnici op te lei.

“Ek het besluit om die kursus te doen en het daar geleer om met soveel verskillende soorte materiale te werk.

“Ek het later selfs as stoelassisent vir ’n tandarts gewerk.

“Die dokter het gesien dat ek meer ’n passie vir mense het en ek het later in ontvangs begin werk.

“Dit was vir my ’n plesier om mense gerus te stel voordat hulle in die tandarts se stoel moes gaan sit.

“Die klein dogtertjie wat eens vir ’n tandarts bang was, kon ander help om gemoedsrus te hê,” het me. Scholtz verduidelik.

Sy is in 1995 getroud en die egpaar wou later met ’n gesin begin.

Dit sou beteken dat sy ander werk moes kry sodat sy by die huis kon wees saam met die kinders.

Nadat ’n ander werk ook ’n gebedsaak geword het, het sy die geld gekry om vir haar Inch by Inch-masjiene te koop.

Sy het vir nege jaar met dié masjiene gewerk en het vertel dat sy wonderlike mense ontmoet het.

“My onderneming se naam was Future Bodies omdat dit nie vir my gegaan het oor die lyf wat daar ingestap het nie, maar oor die mens wat daar uitgestap het.

“Daar het ek my roeping vir vroue gekry.

“Na my ma se dood, moes ek vinnig volwasse word en die onderneming het my gehelp om vir ander ’n vriendin of ma te wees.

“Ek het altyd gesê dat die kommunikasie tussen ma en dogter dalk seer kan wees, maar ten minste het julle mekaar nog.

“Ek is gretig om te leer en wil weet waar jy as mens vandaan kom en hoe jy daar gekom het,” het me. Shcoltz gesê.

Sy het vertel dat niks vir haar onmoontlik is nie omdat sy tot alles in staat is deur Jesus wat haar krag gee.

Omdat sy haar roeping ontvang het om met vroue te werk, het sy besluit om ’n vrouekamp te reël.

“Ons moet altyd ver ry om kampe by te woon en na sprekers te luister.

“Die Here het vir my gewys dat ek dit Bethal toe moet bring en nou gaan ons ’n vrouekamp hier aanbied.

“Om die kamp te begin reël, moes ek weer eens op die Here vertrou vir die geld en vir die saal.

“Alles het in plek begin val en dit is soos ’n bal wat net begin rol en aanhou rol het.

“Dit is iets wat ek en die Here Bethal toe kan bring.

“Hier is soveel wonderlike mense met fantastiese stories,” het me. Scholtz gesê.

Die kamp se naam is Stil word Retreat met Susan Coetzer vanaf 25 tot 27 November.

Vir meer inligting, skakel Anabelle by 072 499 0254 of Natasja by 079 097 4234.

Related Articles

Back to top button