Local newsNews

Vroue se gesondheid is vir Lenie prioriteit

Vroue wat geboorte gegee het of ’n keisersnit gehad het, sukkel in sommige gevalle om die pelvis spiere te versterk.

SECUNDA – Me. Lenie Jacobs is ’n fisioterapeut en is deel van ’n multi-dissiplinêre span wat uroloë en dieetkundiges insluit.

Sy is ook deel van die Pelvic and Woman Health-organisasie wat daarin spesialiseer om vroulike organe in die pelvisgebied gesond te hou.

Dié organe sluit die blaas, dikderm en pelvisspiere in.

Fisioterapeute is verantwoordelik vir die voorkoming en behandeling van ’n verskeidenheid toestande.

Me. Jacobs se spesialisering sluit blaastoestande soos inkontenensie, frekwensie en disurie in.

“Ek fokus op blaas- en dermbeheer.

“Mense sukkel in baie gevalle met hul blase omdat die derm nie reg funksioneer nie.

“As die dikderm behandel is, vind mense dat hul blaasprobleme iets van die verlede is.”

Me. Jacobs fokus ook op pelvispyn en -ongemak.

“Pelvispyn hou verband met seksuele disfunksie, soos pynlike gemeenskap.

“Mans wat aan erektiele disfunksie ly, ondervind ook pyn in die pelvis en dit lei tot pynlike ereksies.

“Ek behandel die pyn en sodoende help dit die mans.”

Vroue wat geboorte gegee het of ’n keisersnit gehad het, sukkel in sommige gevalle om die pelvisspiere te versterk.

Me. Jacobs behandel hulle dan vir dié probleem.

Sy het ook ’n voorliefde vir borsvoedvoorligting.

“Na die geboorte van my tweeling vyf jaar gelede, het ek besef dat vroue nie weet hoe om hul baba’s reg te borsvoed nie.

“Ek leer die ma en die baba hoe om dit reg te doen.”

Sy het ook gesê dat dit ’n mite is dat borsmelk nie sterk genoeg is om die baba te voed nie.

“Borsmelk is altyd reg vir jou baba.

“Die enigste probleem wat mag voorkom, is wanneer die baba nie reg suig nie en dit kan lei tot krampe en winde.

“Borsmelk bevat 300 elemente wat jou baba nodig het en formule melk omtrent net 70.”

Seuns benodig meer vette in die melk en dogters meer kalsium.

“Jou liggaam weet wat die geslag van jou baba is en pas die voeding deur die borsmelk daarvolgens aan.

“Die liggaam produseer ook hormone wat in borsmelk afgeskei word wat die baba laat wakker wees in die dag en slaap in die nag.”

In sommige gevalle ondervind borsvoedende ma’s dat die baba meer gereeld wil drink.

“Dit gaan gepaard met die groei van die baba.

“Die baba stimuleer die hormoon in die ma se liggaam om die voedingswaarde van die melk aan te pas volgens die behoeftes.”

Me. Nel help ook kinders wat sukkel met bed natmaak om meer beheer oor hul blase te kry.

“Die kinders word deur ’n mediese dokter of spesialis na my verwys en ek behandel hulle dan om die blaastonus te versterk.

“Bejaardes of vroue wat sukkel met blaasbeheer en ’n doek moet dra, se selfbeeld kry ’n knou.

“Dit maak my gelukkig as dié mense beheer oor hul probleem kry en om te sien hoe hul selfvertroue herstel word.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button