Motorwag se grootste droom is om weer te kan loop.

Mnr. Pieter Marais werk as motorwag op Evander en glo hy sal meer kan verdien as hy nie meer in ’n rolstoel vasgevang is nie.

EVANDER – Mnr. Pieter Marais werk as motor op Evander en is op soek na iemand om hom met ’n kunsbeen te help, omdat hy graag weer wil loop.

Hy het sy regterbeen verloor na ’n traumatiese ongeluk in 2009 waartydens hy die hele regterkant van sy liggam ernstig beseer het en daar verdere komplikasies in die hospitaal was.

Die Ridge Times het hom destyds gehelp om ’n rolstoel te bekom, waarvoor mnr. Marais steeds dankbaar is.

“Ek kan nou makliker tot by die parkeergebied kom waar ek werk, maar ek wil só graag weer regop kan staan.

“Ek is al 65 jaar oud en wil vreeslik graag weer loop voordat ek eendag sterf.

“Baie mense lag as ek sê ek sal hul motors oppas en kan nie dink hoe ’n man in ’n rolstoel iets kan beteken teen ’n motor nie.”

Mnr. Marais is heeltemaal afhanklik van sy inkomste as motorwag om van dag tot dag te oorleef.

“Ek kry ’n klein pensioen en dit betaal vir my kamer wat ek huur in iemand se agterplaas, en ek moet my selfoon hier by die winkels om die parkeergebied herlaai want ek het nie elektrisiteit nie.

“Op ’n goeie dag sal ek so tussen R20 en R30 verdien, maar dis nie genoeg om kos te koop en vir ’n kunsbeen te spaar nie.

“Ek het al bietjie navorsing gedoen en my nuwe been sal sowat R70 000 kos.”

Mnr. Marais is bereid om enige iets te doen om te help geld insamel.

“Ek sal ’n bordjie om my nek dra, ek sal ’n muntlegging doen, ek het net ondersteuning nodig.

“Een mens hoef nie die totale koste van my nuwe been te betaal nie, maar ek glo die gemeenskap kan saamstaan om my te help.”

“Mense se harte is goed en ek weet hier is barmhartige lede van die gemeenskap wat sal sien ek is eerlik.

“As iemand met my wil kom gesels, is hulle meer as welkom en ek belowe dat sodra ek my kunsbeen het, dans ek die hele parkeergebied vol!”

Indien iemand betrokke wil raak, kan hulle die Ridge Times se kantoor skakel by 017 634 7728 en ’n boodskap vir Willemien los.

Exit mobile version