Local newsNews

Moet jouself nooit as anders beskou nie

Sy bene is by die knie afgesit en vandat hy begin loop het, loop hy net op sy stompies of kunsbene.

BETHAL – Franco van Dijk is 13 jaar oud en het reeds op die ouderdom van agt maande ’n bilaterale disartikulasie ondergaan.

Dit beteken dat albei sy bene by die knieë afgesit is.

Sedert hy begin loop het, loop hy net op sy stompies of kunsbene.

Franco het vanjaar vir die eerste maal aan landsdiens deelgeneem en Mpumalanga-streekkleure verwerf.

Hy is ook vanjaar as raadshoof gekies.

Me. Esmé van Dijk, sy ma, was 14 weke swanger toe hulle uitgevind het dat iets fout met Franco was.

“Die dokters het vir ons gesê dat daar vir seker ook fout met sy verstand sou wees omdat hy reeds ’n liggaamlike gebrek het.

“Sy brein makeer niks en hy vorder goed op akademiese vlak.

“Ons het nog nooit sleg gevoel, gewonder of depressief daaroor geraak nie.

“Dit is uit en uit die Here se genade dat ons dit kon aanvaar en hom help om sy lewe voluit te leef,” het me. Van Dijk vertel.

Hoewel Franco al gewens het dat hy ook kon spring en so vinnig soos ander kinders hardloop, pla dit hom nie dat hy kunsbene moet dra nie.

“My klasmaats en ander kinders by die skool het my nog nooit gespot nie.

“Die feit dat ek nie soos die ander kinders is nie, hou my nie terug nie.

“Ek sal my kunsbene afhaal en oor hindernisse klim of speel wanneer hulle my pla, terughou of in die pad is,” het Franco vertel.

Sy klasmaats beskou hom nie as anders nie en sy kunsbene is al gebruik om ’n bal uit ’n boom te haal.

Franco is lief vir jag en wil in die skyfskietspan opgeneem word en wil ook aan debatte en redenaarskompetisies deelneem.

Hy beoog om volgende jaar tennis te speel.

Hy wil na gr. 12 in ’n meganiese of chemiese rigting gaan studeer.

Franco het mense wat die een of ander vorm van gebrek het, moed ingepraat en gesê: “Moet nooit jouself as anders beskou nie.”

Hy en sy ouers het NJP Transport en mnre. Nico Pieterse en Beer Crause bedank omdat hulle dit op hulself geneem het om borge te kry om vir Franco nuwe kunsbene te koop.

Hulle het ook Nutrochem, Chabo Joubert, Te Water Boerdery, mnr. André van der Merwe en TWK bedank.

Related Articles

Back to top button