Local newsNews

Michael gryp tweede kans

"Die Here het my nie nog 'n kans gegee vir niks nie, ek moet nou regkom."

Michael Bekker het die tweede kans wat hy gegun is, met ope arms aangegryp en volgens hom is hy bykans ‘n maand lank al dwelmvry.

‘n Paar maande gelede het hy en Boetie nog in ‘n tentjie langs die Petdam gewoon.

Met niks om meer te verloor nie, was elke dag ‘n stryd om geld te kry om hul dwelmgewoontes te onderhou en te bedel vir n stukkie brood.

Vandag is Michael ‘n ander mens en hy kan nie uitgepraat raak oor Danie en Chantall Coetzee wat hul huis en hul harte vir hom oopgemaak het en hom deur die moeilike tyd help nie.

“Ek voel soos ‘n nuwe mens; dit is baie lekkerder om van die strate af te wees en nie elke dag mense in die oë te kyk vir geld nie.” sê Michael.

Ongelukkig het dinge nie vir Boetie uitgewerk nie en hy is kort nadat Danie hulle ingeneem het, weer terug na die lewe wat hy ken. Michael is baie handig en het intussen al ‘n paar loswerkies begin doen. Tot onlangs het hy elektriese werk vir ‘n kontrakteur gedoen.

Tussen werke help hy Danie met sy motorherstelonderneming en hy hoop om binnekort ‘n vaste werk te kry.
Michael vertel dat hy nie weet hoe hy ooit vir Danie-hulle kan vergoed vir wat hulle vir hom doen nie en dat al die geld in die wêreld nie genoeg sal wees om dankie te sê nie.

“Ek het besef ek kan nie meer so aangaan nie. Ek word nou 40 en wat los ek vir my drie kinders, watse pa is ek? Die Here het my nie nog ‘n kans gegee vir niks nie, ek moet nou regkom.” sê Michael.

Hy vertel dat dit nie maklik is nie en dat hy steeds ontrekkingsimptome ervaar en lus kry vir dwelms.

Maar met Danie se ondersteuning en sy eie wilskrag beur hy deur die swaar tye. Ledigheid is die duiwel se oorkussing en hy vertel dat hy altyd probeer besig bly, anders dink hy weer aan verkeerde dinge en dat dit nie die pad is wat hy weer wil loop nie.

Michael sê hy is tans in ‘n stryd gewikkel om ‘n kunsbeen te kry. Hy het reeds ‘n linkerkunsbeen, maar volgens hom het sy hospitaalleêr vermis geraak en het hy van tweede op die waglys afgeskuif na 360ste.

Tensy hy R160 000 iewers kan uitkrap vir ‘n nuwe been sal dit glo nog ‘n paar jaar neem voor hy eers weer die bopunt van die waglys bereik, vertel hy.

Hy sê ook dat sy lyf baie seer word as hy heeldag in die rolstoel moet sit en hoop dat hy met die hulp van kunsbene sy lewenskwaliteit kan verbeter.

Maar vir eers werk hy hard om selfstandig te wees en die hoop om weer sy seun te sien, dryf hom elke dag om ‘n beter, skoner lewe te lei.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button