Nuwe hart vir ’n nuwe lewe

Me. Leticia Nel kort dringend hulp omdat haar hart net 27 persent funksioneer en sy ’n hartoorplanting moet kry.

BETHAL – Me. Leticia Nel (28) wag vir die dag wat die telefoon gaan lui en die hospitaal vir haar sê dat hulle ’n hart vir haar gereed het.

Haar maag is groot opgeswel weens al die water wat haar liggaam terughou.

Terwyl me. Nel op die bed gesit en by die venster uitgestaar het, het sy vertel van die pad wat sy moes stap tot waar sy vandag met hartversaking sit.

“Ek het twee kinders en tydens my swangerskap het my voete nie eers so erg geswel nie.

“Ek het ’n normale lewe gelei en was gelukkig.

“My kinders kon saam met my speel en ek kon alles doen wat ’n ma graag vir haar man en kinders wil doen.”

Sy het in November agtergekom dat daar fout is.

“Ek het ’n broodjie geëet en soms blaas brood en pasta my op.

“Ek was onder die indruk dat alles gou weer sou reg wees.

“Met ’n besoek aan die dokter het hulle eers gedink dat dit dalk my blinde- en dikderm was, maar hulle kon nie die probleem vind nie.

“Ek en my man was op Ermelo om inkopies te doen.

“My hart het skielik vinnig begin klop en ek kon nie asem kry nie.”

Me. Nel het weer die dokter besoek en nadat sy verduidelik het wat gebeur het, het die dokter haar vir ’n elektrokardiogram (EKG) gestuur.

Die skokkende nuus was dat sy hartversaking het.

Haar hart is ook vergroot en kan slegs 27 persent funksioneer.

“Ek mis dit om met my kinders te speel, hulle by die skool te gaan haal en vir my gesin te sorg.

“Vandag kan ek nie eers meer skottelgoed was nie.

“My vriende moet sonder my uitgaan en ek mis soveel van my kinders se skolesport.

“Dit is onmoontlik om langs ’n sportveld te sit en my kinders te ondersteun,” het me. Nel vertel.

Die skool waarin haar kinders is, ondersteun haar baie, sowel as haar man.

“Ek raak soms moedeloos en hartseer.

“Ek wil nie hê my kinders moet sonder ’n ma groot word nie.

“Ek bly meeste van die tyd positief omdat ek bly glo dat alles sal uitwerk en dat ek ’n hart sal kry.

“Dan is daar egter ander dae wat ek my man se skouer sopnat huil,” het me. Nel gesê.

Haar dogter kry saans nagmerries en skree in haar slaap: “Nee, mamma waarheen gaan jy!”

“Dit maak my die hartseerste om te sien hoe my kinders daaronder ly en my man wat heeltyd sterk moet bly.

“Elke keer was die telefoon lui en ek sien dit is die hospitaal se nommer, is ek vol hoop en glo dat hulle vir my gaan sê dat hulle vir my ’n hart gekry het.

“Dit breek my dan wanneer hulle bel om my in te lig dat ons nog geld skuld,” het me. Nel verduidelik.

’n Vriendin reël tans ’n dans om geld in te samel om die koste van ’n hartoorplanting te betaal.

Bykans R100 000 word benodig.

Die Nederduits Hervormde Kerk op Morgenzon het ook ’n rekening oopgemaak waarin mense geld kan betaal.

Die dans is die Boere-opskop op die Bult ten bate van Leticia Nel.

Toegang kos R50 per persoon en die dans word op 24 Junie in die Morgenzon Landbou-Akademie se seunseetsaal gehou.

Vleispakkies sal te koop aangebied word en eie drinkgoed is welkom.

Die rekeningnommer waarin geld betaal kan word, is:

Nederduits Hervormde Kerk, Morgenzon, rekeningnommer 6202 6426 131, verwysing Leticia.

Vir meer inligting, skakel Thea Smal by 079 056 9321 of Pierre Venter by 071 534 0576.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version