Dokters kan niks meer vir Zayden (2) doen nie

“Ek moet wag en kyk hoe my kind besig is om dood te gaan.”

Contact Gisele at 072 560 1862 if you would like to help Zayden.

Zayden Coetzee (2) se ma het met trane in haar oë vertel hoe magteloos sy voel.

Hoewel die kans groot is dat haar seun dalk kan sterf, bly me. Zelda Coetzee steeds hoop dat Zayden gesond sal word.

Zayden is twee jaar en vyf maande oud en is in Junie verlede jaar met neuroblastoom diagnoseer.

Hy het ’n ouer boetie wat 9 jaar oud en gesond is.

Neuroblastoom is ’n kanker wat uit onvolwasse senuweeselle in verskeie dele van die liggaam ontwikkel.

Dit ontstaan gewoonlik in en rondom die byniere en versprei later na die senuweeselle.

Dit kan ook in ander dele van die maag en in die bors, nek en naby die ruggraat ontwikkel waar groepe van senuweeselle is.

Neuroblastoom raak meestal kinders onder die ouderdom van vyf jaar.

“Ek het hom van die een dokter na die volgende geneem en elke keer is daar gesê dit was die een of ander siekte, longontsteking of mangelontsteking en Zayden het antibiotika en ander pille gekry.

“Ek was later radeloos, want hy het net nie beter geword nie en ek kon sien dat hy pyn gehad het.”

’n Dokter het gesê dat Zayden se blindederm gaan bars en hulle na ’n professor in Pretoria verwys.

Me. Coetzee het gedink dat dit bykans onmoontlik was dat ’n kind van byna twee se blindederm kon bars.

Die professor het ook gesê dat dit nie Zayden se blindederm kon wees wat hom siek gemaak het nie en dat hulle dadelik na die Steve Biko Hospitaal in Pretoria moes gaan.

Me. Coetzee het nie ’n mediese fonds gehad nie.

Daar is verdere toetse gedoen, waaronder MRI-skanderings en bloedtoetse.

Teen dié tyd was die mediese koste reeds hoog, maar me. Coetzee het haar hand diep in die sak gesteek om hom by dié professor te kry.

Dit is bevestig dat Zayden kanker het en dat dit al ver gevorder het.

“Ek was kwaad omdat ons nie vroeër vir hom die regte behandeling kon kry nie.

“Terwyl ek van die een dokter na ’n ander gejaag het, het die kanker versprei en as ons vroeër geweet het, sou hulle hom dalk nog kon opereer.

“Ons moes elke keer Pretoria toe ry en ek moet nog soms deurry, veral wanneer hy siek word of wanneer die pyn vererger.

“Die dokters en professors het aan my verduidelik dat dié kanker die aggressiefste soort kanker is wat bestaan.

“Zayden het klaar gr. 4 kanker en het groot vergroeisels.

“Die dokters vermoed dat die kanker klaar in sy ruggraat is en reeds sy hele senuweestelsel aangetas het.

“Hy kon geloop het tot net nadat hy baie siek geword het, maar kan nou glad nie meer loop nie,” het me. Coetzee gesê.

Hy het reeds drie keer chemobehandeling ondergaan en een keer bestraling.

Me. Coetzee het vertel dat dit lyk asof die kanker aggressiewer geword het en verder en vinniger begin versprei het na die behandeling.

“Die neurologiese pediater het vir my verduidelik dat neuroblastoom soos wortels in alles ingroei.

“Hulle vermoed ook dat dit dalk klaar na sy brein versprei het.

“Sy regter ogie begin skeef trek en dit is blykbaar ’n teken daarvan,” het me. Coetzee gesê terwyl sy haar seun in haar arms vertroos het.

Hy maak elke nou en dan ’n geluid wat duidelik sy manier is om uiting aan sy pyn te gee.

Hy kan tans net kortisoon en pynmedikasie gebruik.

Die dokters kan nou niks anders vir hom doen nie.

“Kansa samel geld vir die gesin in deur die media en persoonlike anonieme borge,” het me. Giséle D’Alebout van Kansa, gesê.

“Die pa betaal blykbaar nie onderhoud nie en met Zayden se siekte, gaan dit baie moeilik.

“Zayden se ma het nie voltydse werk nie en werk skofte om na Zayden om te sien.

“Ons help met geld, doeke, Wet Wipes en formule melk.

“Me. Shirley Coetzee, verteenwoordiger van Kansa, het ’n tuisversorger gereël vir wie ons gaan geld insamel sodat sy na Zayden kan kyk terwyl sy ma werk.

“Kansa gee hulle opleiding hoe om met hom te werk en wat om te verwag soos die kanker versprei.

“Enige iemand wat kan help, kan geld of tjeks na die Secunda Kansa-kantoor stuur of deur Shoprite/Checkers se kodebankdiens werk.

“Ons benodig kruideniersware, ’n rolstoel en ’n oogklappie wat later benodig sal word.

“Doeke vir ’n twee en ’n halfjarige seun en Wet Wipes is tans noodsaaklik.

“Soos die omstandighede verander, so sal ons weer behoeftebepalings moet doen,” het me. D’Alebout gesê.

Me. Ilse Cooper en me. D’Alebout van Kansa bestuur onder andere die huur van tuisversorging en die mediese onkoste.

Vir meer inligting, stuur ’n epos na me. D’Alebout by gdalebout@cansa.org.za.

 

 

Exit mobile version