Paleisrewolusie by gholfklub afgeweer

MG Snyman onbestrede herkies as klubkaptein van Bethal Gholfklub.

Die nuwe voorsitter en vrouekaptein van Bethal Gholfklub het op Donderdag, 19 November tydens die klub se algemene jaarvergadering ’n pleidooi gelewer dat lede in die jaar wat voorlê, sal help om die klub weer in ’n sterk en hegte eenheid te vorm.

Mnr. MG Snyman het gesê hy hoop dat lede ná die algemene jaarvergadering kan aanbeweeg en die onderlinge verskille uit die weg kan ruim.

Me. Melani Venter het op haar beurt gesê dat almal moet saam staan en die klub opbou.

Hul woorde het gevolg op bykans vier weke se onderlinge “gevegte” tussen twee groepe lede wat bykans gelei het tot Bethal Gholfklub se skeuring.

Die faksies het bestaan uit die voormalige bestuur onder leiding van mnr. MG Snyman en ’n groot groep lede, terwyl die ander faksie bestaan het uit lede wat die voormalige klubbestuurder ondersteun het.

Die klub het die afgelope jaar ’n kontrak met mnr. Gerrie Jordaan, of volgens wet met sy vrou se onderneming, gehad wat behels het dat haar onderneming (mnr. Jordaan) in ’n 80/20-winsdeling met die gholfklub gedeel het.

Lede het egter verlede maand tydens ’n spesiale algemene vergadering besluit om nie die kontrak te hernu nie.

Die ledebesluit het daartoe gelei dat mnr. Jordaan se ondersteuners die bestuur van die klub tydens die algemene jaarvergadering wou oorneem.

Lede wat bykans 30 jaar of langer by die klub betrokke is, het dit duidelik gestel dat indien mnr. Jordaan se ondersteuners verkies sou word, hulle nie hul lidmaatskap sou hernu nie en eerder by een van die ander klubs in die omgewing sou aansluit.

Die “paleisrewolusie” is egter afgeweer toe geen van hierdie “ondersteuners” op die klub se nuwe dagbestuur verkies is nie.

Tydens die algemene jaarvergadering is mnr. Wilco Uys tot president verkies, terwyl mnr. MG Snyman onbestrede tot kaptein verkies is.

Mnr. Gert van der Merwe is die nuwe onderkaptein, terwyl mnr. Henri Janse van Vuuren herkies is as tesourier.

Me. Melanie Venter is onbestrede herkies as vrouekaptein, terwyl me. Anelia Venter op die laaste nippertjie onbestrede gekies is as sekretaris.

Die addisionele lede is mnre. Bertus Nortier, Willie Meyer, Willie Strydom, VW Shabangu, Francois Berry, Corne Klopper, Sybrand Botha en Sipho Skosana.

Mnr. Snyman het in sy voorsittersverslag gesê dat die klub ’n waterprobleem ondervind en dat die dam se watervlak laag is,

“Dit is die grootste uitdaging wat vir die nuwe komitee voorlê.”

Tydens die finansiële verslag het dit aan die lig gekom dat daar moontlik wanbestuur was met Bethal Gholfklub se finansies.

Die lede het tydens die vergadering besluit dat die nuwe komitee moet toesien dat ’n forensiese oudit gedoen word.

Mnr. Uys het tydens die bespreking gesê dat ’n gholfklub begin met eerlikheid en as mense nie integriteit het nie, kan daar ’n persepsie ontstaan dat iemand steel.

“Ons moet na hierdie gholfklub kom met eerlikheid en integriteit.”

Die uittredende president, mnr. Frans Cronjé, het gesê daar is baie onbeantwoorde vrae ten opsigte van die klub se finansies.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM –  590c76a8

WhatsApp – 0793644185

Exit mobile version