Potjiekoswenner gee vir liefdadigheid

R1 000 is aan Tafelronde Secunda 231 geskenk.

SECUNDA – Mnr. Chris en me. Anneke McLean van Prins Albert het op 10 Oktober Lake Umuzi se Wyn-Innie-Tuinfees gewen.

Deelnemers kon as ’n groep of individueel vir dié kompetisie inskryf.

Secunda Tafelronde 231 het ook deelgeneem en Kokkerdore van die Kokkedorereeks, Marinda Engelbrecht en Nic van Wyk, asook Sarie se kosredakteur, Herman Lensing, het die potjies beoordeel.

Mnr. en me. McLean het die prysgeld van R5 000 losgekook.

Hul potjie het bestaan uit beesstert, lamsnek en neute en is gegeur met koljander, tamaties en uie.

Die kos is met vars slaai voorgesit wat die beoordelaars baie beïndruk het omdat hul potjiekos die enigste was wat ’n vars element bygehad het.

“Die mense is baie vriendelik en al was dit ’n kompetisie, het almal met mekaar gesels en grappies gemaak.

“Ons sal vir seker weer inskryf, dit was groot pret,” het me. McLean gesê.

In ’n onderhoud met die Ridge Times het hulle vertel dat hulle al om 7vm met hul potjie begin het.

Hulle is jong getroudes en gaan die geld gebruik om die huis waarin hul onlangs getrek het, op te knap.

“Moenie bang wees vir speserye nie en proe gereeld aan die kos.

“Maak ook seker dat daar genoeg sout in is,” was mnr. McLean se raad.

André en Lisa Wittstock het twee geëindig en R2 500 ontvang.

Mnr. Martin Vermaak en mnr. Bennie Lee het derde geëindig en R1 000 gewen.

Mnr. Vermaak het dié prysgeld aan die Tafelronde Secunda 231 geskenk wat die Tafelronde weer aan die Sunflower Fund gaan skenk.

Die Sunflower Fund doen bewusmaking en samel geld in vir die Suid-Afrikaanse Beenmurgregister vir mense wat beenmurgkanker het.

Mnr. Vermaak het gesê dat hy dié skenking maak vir liefdadigheid.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

 

 

 

Mnr. Martin Vermaak handig die wentjek aan mnr. Ruan van der Merwe (voorsitter van die Tafelronde Secunda 231). Voor is mnr. De Wet Pretorius. Agter is mnre. Anton Vermaak, Bennie Lee, Vermaak, Van der Merwe en mnr. Christiaan Nel.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version