Lerize (6) kort dringend publiek se hulp

Haar skedel is gekraak en sy het bloeding op die brein.

BETHAL – Lerize Williams (6), ’n graad 0-leerling van Laerskool Marietjie van Niekerk se kleuterskool, is ernstig beseer nadat ’n groot veiligheidshek (palissadehek) op haar geval het nadat dit ontspoor het.

Die fratsongeluk het op Donderdag, 6 Augustus plaasgevind.

Volgens me. Lucille van Zyl, vriendin, het Lerize die hek vir haar ma, me. Elize Williams, oopgemaak toe dit op haar geval het.

“Die hek het op haar kop geval en haar ma het dadelik met haar na hul dokter gejaag.”

Sy is vanaf Bethal per ambulans na die Medi-Clinic Highveld op Secunda gejaag.

“Sy is glo Donderdagaand net na agt na Netcare Garden City in Johannesburg oorgeplaas.”

Lerize is tans in die hoësorgeenheid onder verdowing om haar stabiel te hou.

Haar skedel is gekraak en sy het bloeding op die brein.

Die gesin het nie ‘n mediese fonds nie en benodig dringend R250 000 vir mediese onkoste.

Laerskool Marietjie van Niekerk het ook op hulle Facebook-blad gesê dat mense geld in ’n rekening vir hulle kan inbebetaal.

Mense kan geld na J.H. Joubert FNB 270 144 rekeningnommer: 516 700 12454 inbetaal en die bewys na die skool faks by 017 647 1564.

“Ons wil namens die vriende en familie vir die gesin sê dat hulle in ons gebede is en dat ons elke oomblik aan hulle dink,” het me. Van Zyl gesê

Exit mobile version