Michaela droom van Broadway en Parys

Ballet is 'n soort prestasiedans met sy oorsprong in die howe tydens die Italiaanse Renaissance van die 15de eeu en het later in 'n konsertdansvorm in Frankryk en Rusland ontwikkel.

Michaela Henri droom van Broadway en Parys.

Michaela (16), ‘n gr. 11 leerling van Hoërskool Standerton, het op driejarige ouderdom begin dans.

Sy het op 30 Mei in Pretoria haar intermediêre eksamen in ballet met vlieënde vaandels geslaag. Volgens Michaela word daar ‘n persentasie toegeken, nadat meer as 28 passies uitgevoer is en ‘n bevredigende, goeie of uitstekende oordeel word gevel.

“Ek wou net van kleinsaf dans en my gunsteling danser is Sergei Polunin,” het Michaela gesê.

Ballet is ‘n soort prestasiedans met sy oorsprong in die howe tydens die Italiaanse Renaissance van die 15de eeu en het later in ‘n konsertdansvorm in Frankryk en Rusland ontwikkel.

Dit is sedertdien ‘n wydverspreide, hoogs tegniese vorm van dans met sy eie woordeskat, gebaseer op Franse terminologie.

Sy beoog om in die toekoms haar gevorderde vlakke, “Advanced” 1 en 2 te voltooi.

Michaela presteer ook in ander dansvorme en het die afgelope twee jaar tydens die Nasionale Danskampioenskap sesde in Klassieke, Latynse en “Energy” danse geëindig.

Sy is ook as die beste “Energy”-danser by ‘n kompetisie vroeër vanjaar aangewys.

Sy oefen elke Maandag vir ‘n uur by die Elbie Human Balletskool op die dorp, Dinsdae vir drie ure haar ander dansstyle by CF Els Dans Studio en in die middae oefen sy soos haar skoolwerk dit toelaat.

“Ons het ‘n klein saaltjie wat ons huur, waar ek probeer om ten minste twee ure drie maal per week te oefen,” het sy gesê.

In haar woorde kos ballet nie te baie nie, maar wat wel geld kos is as jy Pretoria toe moet ry om jou eksamen te doen.

Haar gunsteling vakansieplek is Badplaas en sy hou baie van swem.

In haar vryetydyd speel sy graag krieket en rugby saam met haar kêrel en sy vriende.

“Op die vlak wat ek tans is met ballet, dans ons nie baie op ons tone nie, maar dit kan baie pynlik wees in die begin,” het die jong ballerina gesê.

Volgens haar moet ‘n mens fiks wees om ballet te beoefen en het ballet haar dissipline en uithouvermoë aangeleer.

“As jy voltyds dans, moet jy uiters fiks bly en reg eet.”

Michaela beplan om na skool ‘n fisioterapeut te word, maar sal ook bitter graag iets in die dansrigting wil doen.

Wie weet, dalk eendag in die toekoms, sal Michaela die Royal Ballet School se jongste hoofdanser word, net soos haar held, Sergei Polunin.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version