Moeder van twee dogters sterf

Me. Gerda Bosman sterf op die ouderdom van 37 in die Witbank Staatshospitaal.

’n Ma van twee dogters is Saterdag, 30 Mei in die Evander Hospitaal met ’n gat in haar maag opgeneem, maar geen bed was beskikbaar nie en me. Gerda Bosman het die heel aand in haar rolstoel gesit.

Sy is na die Witbank Staatshospitaal oorgeplaas en sou op 31 Mei geopereer word, maar die operasie is uitgestel omdat ’n suster nie opgedaag het wat betrokke moes wees nie.

Die operasie wat die volgende dag sou plaasvind is ook weer uitgestel.

“As enigiemand met ’n gat in die maag opgeneem word, is die personeel veronderstel om dadelik aandag daaraan te gee en daar moet geen verskonings vir die uitstel van ’n operasie wees nie,” het me. Bosman se swaer gesê.

Me. Bosman is op 1 Junie dood en die susters het nie die familie in kennis gestel nie.

Haar familie het eers laat die aand van haar dood verneem.

Die hospitaal het al die kontak nommers van die familielede gehad.

“Die familie is diep teleurgesteld oor die behandeling wat me. Bosman ontvang het.” het mnr. Bosman gesê.

Nie een van die betrokke hospitale het teen druktyd kommentaar gelewer nie.

Exit mobile version