EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Cook n Loer skop af

Wat kook of bak jy vanaand vir ete?

SECUNDA – Cook n Loer gaan weekliks by iemand in die omgewing se kombuis inloer om uit te vind wat hulle en hul geliedes graag kook of bak.

Word resepte streng gevolg of is dit net ’n riglyn?

Word daar gebak of gebrou?

  • Ruan van der Merwe, ondervoorsitter van die Tafelronde Secunda 231, is eerste op die lys.

As hy nie naweke besig is nie, braai hy graag of doen ’n potjie, veral tydens die rugbyseisoen.

Ruan was self ’n kranige rugbyspeler en sy gunsteling resep wat hy met Cook n Loer gedeel het, het egter geen verbintenis met rugby of braai nie.

Hy maak graag self pasta.

Dit kan dan in verskeie vorms gesny word, soos tagliatelli, fettucini, capellini en spaghetti.

Hy sny die pasta dan in lang stroke van 1cm.

“Pasta is pasta solank dit net vars en tuisgemaak is en daar ’n hartlike sous by is,” het hy gesê.

Hy maak dan gewoonlik die tradisionele vleissous Ragù alla Bolognese daarby, asook ’n groen slaai.

  • Resep:

Ruan se vars, tuisgemaakte pasta met Ragu alla Bolognese:

Begin met die pastadeeg sodat dit kan rus terwyl die vleissous gemaak word. Dit is om die gluten in die meel te laat ontspan sodat die deeg elasties is wanneer dit uitgerol word.

Pastadeeg-bestanddele:

– 300g fyn wit gesifte meel.

– Drie ekstra groot eiers

– ’n Knippie sout

Bakkie met ekstra meel vir jou hande en werkoppervlak wanneer jy begin knie en uitrol.

  • Metode:

Plaas die meel in ’n groterige mengbak, maak ’n gaatjie in die middel en voeg die eiers een vir een by terwyl jy dit met ’n vurk meng.

Wanneer die deeg taaierig begin raak, is dit tyd om met jou hande te begin werk.

Vryf gereeld meel aan jou hande om die hantering van die deeg makliker te maak.

Op hierdie stadium kan jy op jou meelbestrooide werkoppervlakte begin werk.

Knie deeg tot glad, ferm en droog.

Die deeg moet maklik hanteerbaar wees.

Vorm dit in ’n ronde bol, bedek met kleefplastiek en laat rus vir ten minste ’n halfuur terwyl jy die sous maak.

Na die halfuur verby is en jou Bolognese-sousie heerlik prut:

Verdeel die deeg in twee as dit vir jou makliker gaan wees en op jou meelbestrooide oppervlak druk die deeg plat met jou hande.

Met jou meelbestrooide koekroller begin jy nou die deeg uit te rol.

En weer en weer.

Wanneer die deeg redelik dun uitgerol is (omtrent so dik soos twee speelkaarte teen mekaar) kan jy dit in 1cm breë repe sny.

Plaas die repe los van mekaar en reguit uitgestrek in ’n meelbestrooide skinkbord.

Strooi ’n baie klein bietjie meel bo-oor en laat so 20 minute droog word voordat jy dit kook.

  • Om pasta te kook:

Neem 2 ½ liter kokende water met een hoogvol teelepel sout.

Voeg die nou redelike droë pasta gelyk in die kokende water.

Toets een stringetjie na so twee minute met vingers en proe of dit gaar is.

Pasop vir te lank kook, die pasta moet al dente wees.

Bestanddele vir die vleissous:

4 x repies streepspek wat in kleinerige stukkies gesny is

15ml olyfolie

1 x elk wortel, ui en stingel seledery (sonder die blare) baie fyn gekap

1 x wiggie knoffel fyn gedruk (growwe sout vergemaklik die taak aansienlik)

1kg maer beesmaalvleis

1 x blik tamatiepuree

1 x biefblokkie (eerste prys as jy tuisgemaakte aftreksel het).

1½ eetlepels bruinsuiker

Sout en swartpepermeultjie byderhand

2 x lourierblare

Fyn parmasaankaas om bo-oor te strooi

’n Handjievol platblaar pietersielie fyn gekap vir garnering

  • Metode:

Roerbraai die klein stukkies spek in die olyfolie tot amper brosbruin oor lae hitte.

Voeg die fyngekapte wortel, ui en seldery by, hou aan roer en pasop dat dit nie aanbrand nie.

Die maalvleis word nou saam gebraai.

Dan is dit die fyngedrukte knoffel se beurt.

Skep nou die tamatiepuree ook in en roer.

Gebruik die blik om dieselfde hoeveelheid warm water mee af te meet.

Krummel die biefblokkie en die bruinsuiker in die blikkie en gooi dan die mengesel in die kasrol.

Nou kan jy die plaat se hitte verhoog.

Kneus die lourierblare sommer so in jou hand en voeg by.

Roer deur.

Wanneer die bolognese sous se inhoud ernstig begin prut, kan die hitte verminder word.

Proe vir soutgehalte en dis dan ook wanneer jy swart peper mildelik bo-oor kraak.

Laat prut vir so 30 minute en onthou om die lourierblare te verwyder.

Baie belangrik is dat jou bolognese sous gereed is om te bedien wanneer jy die pasta begin kook, want die pasta neem net 2 tot 3 minute om gaar te word.

Die klaargekookte pasta is baie poreus en sal die warm sous opdrink wanneer dit oorgegooi word.

Haal uit, dreineer en skep in borde en drapeer dadelik die Ragu oor die pasta.

Strooi kaas en gekapte pietersie bo-oor en geniet.

Indien jy enige navrae of voorstelle het of indien jy jou resep met lesers wil deel, stuur ’n e-pos na editor@echoridge.co.za.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button