Trichardt-egpaar nou voltyds in bediening

Vrou het hulp nodig om Go Purple-projek te begin.

TRICHARDT – Mnr. Pieter en me. Amanda Haywood is al sedert hulle agt jaar gelede tot bekering gekom het, in die bediening.

Mnr. Haywood het tot einde Maart as ’n beplanningsgroepleier gewerk en was toe deeltyds in die bediening.

Die egpaar bedryf nou voltyds die River of Love-bediening.

“Ek het by twee geleenthede woord gekry dat ek moes bedank as beplanningsgroepleier en voltyds in die bediening gaan,” het mnr. Haywood gesê.

“Iemand het geprofeteer dat ek ’n pakket gaan kry en ek het gedink dit kan nie wees, maar ek het aansoek vir ’n pakket gedoen.

“Dit is eers afgekeur, maar ek het appèl aangeteken en dit toe gekry.

“God is groot, getrou en almagtig en ons moet net staan op Sy Woord en dit sal gebeur.”

Die River of Love-bediening het met ’n selgroep van net ’n paar mense begin en gegroei tot ’n groep van tussen 20 en 30 wat elke Dinsdagaand by Multilink-konferensiesaal byeenkom.

“Ons sien dit as ’n plek waar mense gesond word en dan aangaan om hul passie vir God uit te leef in hul eie bediening of waar ookal God hulle wil gebruik.

“Daar is reeds baie getuienisse van sulke gevalle,” het me. Haywood gesê.

Sy is in die proses om die Go Purple-projek wat landwyd gedryf word, ook op Secunda te laat realiseer.

Die doel van die Go Purple-projek is om vroue wat deur misdaad en geweld geraak word, te help.

Me. Haywood sal eers vroue moet oplei om slagoffes van geweld by te kan staan en sy moet minstens 30 vroue hê wat opgelei wil word.

Sy het ook ’n perseel nodig waar die slagoffers kan bly en hoop sy sal dié projek saam met ander kerke en organisasies kan bedryf.

Enigiemand wat belangstel om by dié projek betrokke te raak, kan me. Haywood skakel by 082 446 0013.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version