Local newsMunicipalNews

Solidariteit beoog om tak op dorp te stig

Solidariteit gryp in op Standerton.

Met armoede en werkloosheid wat landswyd toeneem, wil Solidariteit Helpende Hand ook nou op Standerton ingryp deur ’n plaaslike tak te stig.

Dié tak sal deel van Helpende Hand se meer as 125 landswye takke vorm.

“Ons wil graag hoop en verligting aan die behoeftiges in die Standerton-gemeenskap bring,” het me. Alisha de Lange, Helpende Hand se streekorganiseerder in Mpumalanga gesê.

“Om vir ’n kind hoop te skep, om ’n jongmens te help studeer, of om werk vir ’n werklose te skep, dít is wat vir ons belangrik is.”

Helpende Hand het verskeie nasionale projekte wat behoeftiges, van baba tot bejaarde, se armoede verlig, voorkom en verbreek.

Daarby loods elke tak ook plaaslike projekte op grond van die behoeftes wat in die gemeenskap geïdentifiseer word.

Projekte wat hulle graag op Standerton wil vestig, sluit in die nasionale Skooltassieprojek waartydens duisende skooltassies jaarliks aan behoeftige gr. 1’s regoor die land uitgedeel word.

Deur middel van die Kosblikkieprojek het Helpende Hand in 2014 altesaam 6 500 kleuters in 75 kleuterskole met voeding en opleiding gehelp.

Die Bemagtig-’n-kind projek het verlede jaar op verskeie maniere aan 461 kinders ’n hupstoot gegee, byvoorbeeld deur ekstra wiskundeklasse, arbeidsterapie of om deelname aan sport of ’n sporttoer moontlik te maak.

Helpende Hand help ook met tersiêre opleiding na skool.

Die organisasie se Afrikaanse Beursinstituut het in 2015 meer as R26 miljoen uitbetaal in rentevrye studielenings om sodoende studente ’n kans te gee om ’n tersiêre kwalifikasie te bekom.

Hulle fokus op bejaardes in nood en die organisasie bied projekte aan soos die Toontoffel-breiprojek om aan bejaardes emosionele ondersteuning te verskaf en broodnodige geld in te samel.

“Helpende Hand is nie ’n organisasie wat net voortdurend kos en klere uitdeel nie,” het De Lange gesê.

“Ons wil individue en gesinne ophef en in staat stel om hul eie lewensomstandighede te verbeter.

“Ons wil nie ’n klimaat van afhanklikheid daarstel nie, maar eerder persone help om vir hulself ’n beter toekoms te verseker.”

Enige persoon wat graag by Helpende Hand se Standerton-tak betrokke wil raak, kan met me. Alisha de Lange by alisha@helpendehand.co.za of 012 664 4390 in verbinding tree.

 

 

Besoek gerus ons ander webtuistes hier:

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

”Like” ons Facebookblad en volg ons op Twitter.

Vir nuus wat na jou selfoon gestuur word:

BBM – 266F5BCC

WhatsApp – 0748872805

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button