Hospitaal-suster neem grappie te ver

Man se been vat vlam in Witbank Hospitaal.

SECUNDA – Mnr. Danie Annandale is in die Witbank Hospitaal opgeneem met ’n gebreekte been, maar het daar uitgekom met eerste graadse brandwonde aan sy hand en arm.

Dit was nadat ’n suster glo gemaak het of sy die verbande waarmee sy been toegedraai was, aan die brand gaan steek en dit toe regtig vlam gevat het.

Volgens mnr. Annandale het dié suster uit die kamer gehardloop toe sy gesien het wat gebeur het en ’n manlike verpleër het glo net gestaan en kyk.

“Hy het te geskok gelyk om te help, toe het ek self die verbande afgehaal,” het mnr. Jarrod Swart, mnr. Annandale se stiefseun, gesê.

Mnr. Swart het ook ligte brandwonde aan sy vingers opgedoen.

Die suster het glo later teruggekom en om verskoning gevra en gesê sy sal nie weer grappies maak nie.

“Vir my is dit nie net ’n grap nie, my hand en been is erg beseer en ek kan nie werk nie,” het mnr. Annandale gesê.

Hy het sy eie paneelkloppersonderneming en verloor inkomste.

Die suster het mnr. Annandale se hand toegedraai en ’n ander een het later vir hom gevra of ’n dokter al na sy en mnr. Swart se brandwonde gekyk het waarop negatief geantwoord het.

Sy het gesê ’n dokter moes hulle eers ondersoek voordat hul wonde toegedraai is en een het dit toe gedoen.

Volgens mnr. Annandale het die matrone en ’n dokter ook later na sy kamer gegaan en om verskoning gevra.

Mnr. Annandale het ’n klag by die polisie gelê en beplan om ’n eis teen die hospitaal in te stel.

Die koerant wag vir kommentaar van die hospitaal, asook die Mpumalanga Departement van Gesondheid.

Mnr. Danie Annandale se brandwonde.
Só lyk mnr. Danie Annandale se arm nadat hy die verbande van sy been afgeruk het.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons webtuistes:

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 29C64351

WhatsApp – 082-611-3867

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version