Oud-Errie rig IPTL-span af

John-Laffnie de Jager se fut is nog lank nie uit nie. Dié gewese internasionale tennisspeler en oud-Ermeloër is aangewys as afrigter van die UAE Royals van Dubai in die International Premier Tennis League (IPTL).

Dié span spog met die wêreld se nommereen-speler, Novak Djokovic, en ander groot kanonne Marin Cilic, Caroline Wozniaki, Eugenie Bouchard, Goran Ivanisevic, Nenad Zimonijc en Malek Jaziri.

Tennis word in die toernooi in ’n heeltemal nuwe formaat aangebied en stel toeskouers in staat om baie meer tennis in ’n aand te sien as voorheen.

Die tradisionele wedstrydformaat word verander na ’n enkelstel- geen voordeel-formaat wat die spel bespoedig.

Elke wedstryd bestaan uit vyf stelle: mans-enkels, vroue-enkels, mans-dubbels, gemengde dubbels en voormalige kampioen-enkels. Elke spel wat gewen word, tel een punt vir die span se finale puntetelling. Die span wat die meeste spelle algeheel oor die vyf stelle behaal, sal as die wenner van die wedstryd uittree.

Om meer van dié formaat te lees besoek www.iptlworld.com.

John-Laffnie is baie opgewonde oor sy aanstelling as afrigter van die span en die formaat waarin dié tennis gespeel word en glo dat sy span goed sal vaar.

Hy is die afgelope 13 jaar betrokke by World Team Tennis in die VSA. Hy het die Springfield Lasers die afgelope agt jaar afgerig en hulle het drie keer die eindstryd gehaal.

Hy is die afgelope vier jaar voltyds by afrigting betrokke en as afrigter het hy 15 ATP-toertitels en twee Grand Slam-titels ingepalm.

“Die EHS wens John-Laffnie baie geluk met die puik prestasie en bly baie trots op dié oud-Errie wat bly presteer en sy passie vir tennis uitleef. Ons weet dat hy ’n verskil maak oral waar hy gaan,” het me. Vera Alberts, adjunk-hoof, gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version