Editor's choiceLocal newsMunicipalNews

Poskantoorstaking kom tot ’n einde

Werkers keer terug werk toe.

Die bykans drie maande lange poskantoorstaking is op ‘n einde.

Tydelike werkers by die possleutelpunte het op 18 Augustus begin staak met die eis om permanent aangestel te word.

Die Communication Workers Union (CWU), Democratic Postal Communication Union (Depacu) en die South African Postal Workers Union (Sapwu) het tot die stryd toegetree om salarisverhogings vir werkers te beding.

Die Poskantoor se arbeidstrategie, wat in 2013 goedgekeur is, om 7 945 deeltydse werkers permanent aan te stel, het die spil geword waarom alles gedraai het.

Volgens ‘n e-pos, gedateer 17 November, van die poskantoor aan sy werknemers, het Depacu en Sapwu ‘n ooreenkoms met die werkgewer vir ‘n 6,5% salarisverhoging vanaf 1 Desember, terugwerkend vanaf 1 April, bereik.

Die terugwerkende bedrag sal in Januarie volgende jaar betaal word, indien geld beskikbaar is.

Die skedule om die tydelike werkers permanent aan te stel sal op 1 Desember toegepas word.

Die vakbond, CWU, het nie die loononderhandelingvergaderings bygewoon nie.

Dr. Simo Lushaba is as administrateur van die Suid-Afrikaanse Poskantoor aangestel en het werknemers op Vrydag 14 November via video toegespreek.

Dr. Lushaba het die kritieke finansiële situasie van die onderneming uitgelig en verwys na die begrote verlies van R536-miljoen vir die huidige finansiële jaar, wat nou aansienlik groter is.

Hy het ‘n beroep op stakende werkers gedoen om terug na die werkplek te keer.

Volgens me. Elsie Hahn, waarnemende posmeester op Standerton, is vanjaar die eerste keer wat geen regeringsubsidie ontvang is nie.

“Hoe gaan ons ‘n wins wys met die komende feesseisoen waar baie ondernemings sluit?” het me. Hahn gevra.

Sy het ook gesê dat hulle hoofkantoor aangedui het dat die posopeenhoping binne 17 dae herstel sal wees.

“Ons doen daagliks die werk wat inkom, maar het drie maande se werk om in te haal,” het sy ook gesê.

Volgens ‘n e-pos gedateer 24 November was daar ‘n 52% verbetering in werknemerafwesigheid na die skikkingsooreenkoms.

Die plaaslike poskantoor het seëls, hoewel die voorraad uitgeput was, omdat net agt weke se voorraad volgens regulasies beskikbaar kan wees.

Die verskillende kantore het ingespring om tot hulp vir mekaar te wees.

“Alle plaaslike pos het daagliks uitgegaan.

“Mense verwag ‘n diens en ons moet ‘deliver'”, het me. Hahn afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button