Local newsNews

Adriaan ’n tegnoloog van formaat

Mnr. Adriaan Meintjies het sy stokperdjie in ’n beroep omgeskakel.

SECUNDA – Mnr. Adriaan Meintjies (61) werk reeds vir 40 jaar as ’n elektroniese tegnoloog by Sasol en hy geniet dit om elektroniese toestelle uitmekaar te haal en dit in iets nuuts te omskep.

Sy liefde vir elektronika het as kind begin toe sy bure op die plaas vir hom toerusting gegee het om sy eie radio te bou.

Na matriek het mnr. Meintjies by die weermag aangesluit en hy het in 1973 by Sasol op Sasolburg as ’n instrumentasie vakleerling ingeskryf en in 1975 as ’n ambagsman gekwalifiseer.

Die instrumentasie afdeling was egter nie vir mnr. Meintjies interessant genoeg nie en hy het ’n werk by Atlas Vliegtuig Operasie gekry waar hy aan elektroniese toestelle gewerk het om vliegtuie mee te toets.

Hy het as ’n elektroniese tegnoloog by Sasol op Secunda begin werk en die geleentheid gekry om sy studies te voltooi, waarna hy gehelp het om elektroniese geriewe in te rig waar ambagsmanne opgelei is.

In die 40 jaar dat mnr. Meintjies by Sasol se aanlegdepartement betrokke was, is meer as 2 000 toestelle ontwerp en vervaardig wat vandag nog gebruik word.

Dié toestelle, beter bekend as elektronika, verrig verskeie funksies in die beheerkamers wat addisonele inligting verskaf en die aktivering van alarmstelsels bewerkstellig.

Deur sy stokperdjie, het mnr. Meintjies ’n kleinskaalse onderneming begin waar hy elektroniese toestelle in sy vrye tyd vir privaat kliënte ontwerp.

“My ontmoeting met die Here het vir my baie deure oopgemaak en ek is dankbaar vir elke geleentheid,” het mnr. Meintjies gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button