Man by asgate aangeval

Munisipaliteit gaan glo binnekort sekuriteit by asgate opskerp.

SECUNDA – ’n Gebrek aan veiligheid en sekuriteit by die plaaslike asgate is steeds ’n probleem.

Mnr. Kobus Viljoen is onlangs deur vier mans by die asgate aangeval en hy was glo die derde geval vir die dag, hoewel mnr. Henry Masango van die Govan Mbeki Munisipaliteit, gesê het: “Net een geval is by die departement aangemeld en daardie persoon is reeds geskakel.”

Mnr. Viljoen is egter nie die enigste voorval nie, mnr. Jan du Plessis het op die Ridge Times se webtuiste (www.ridgetimes.co.za) kommentaar gelewer en gesê dat hy ook by die asgate aangeval is en dat bykans R20 000 se skade aan sy bakkie gerig is.

In mnr. Viljoen se geval, wou hy geute en rommel daar gaan aflaai toe vier mans op sy bakkie afgestorm het en terwyl sy bakkie nog gery het, probeer het om die rommel af te haal.

“Ek het gestop en uitgeklim om hulle te keer, want ek was bang hulle sou my bakkie beskadig,” het mnr. Viljoen gesê.

“Een het my van agter af geslaan, terwyl ek ’n ander een wou keer om die geute af te haal.

“Ek het terug geslaan en myself verdedig en my werknemer wat saam met my gegaan het, het ook gehelp om die mans te probeer afweer.”

Die vier mans het laat spaander toe mnr. Viljoen die polisie geskakel het wat vinnig op die toneel was.

Volgens mnr. Viljoen het die werknemers van die asgate hom nie probeer help nie en net op ’n afstaand gestaan en die petalje dopgehou.

Een van die aanvallers is na die voorval in hegtenis geneem, maar volgens korrespondensie tussen mnr. Viljoen en die munisipaliteit, weet amptenare van die munisipaliteit wie die man is en hy is glo al voorheen in hegtenis geneem, maar kom elke keer los.

Mnr. Viljoen het ’n brief aan die betrokke departement van die munisipaliteit geskryf en het in dié brief gesê daar is geen beheer by die asgate nie, die mense by die asgate was dronk en bedwelmd en het glo onder mekaar baklei om hul hande op staal en waardevolle items te kry.

Hy het gesê dat dit vir hom veiliger is om sy vullis voor die asgate te stort omdat hy nie meer daar wil ingaan nie.

“Toe ek uitry daardie dag, het ek gesien hoe ’n man met drie bierbottels in sy hande agter ’n ander bakkie probeer aanhardloop, maar hy kon nie vinnig genoeg hardloop nie omdat hy nie geweet het wat om met die bierbottels in sy hande te maak nie,” het mnr. Viljoen gesê.

In antwoord op mnr. Viljoen se brief aan die munisipaliteit, het mnr. Hendrik van der Merwe, adjunkdirekteur van vullis en omgewingsake gesê dat die munisipaliteit ’n hofbevel gekry het om alle mense wat onwettig by die asgate rondhang, te verwyder en dat hulle tans met Sasol onderhandel om as deel van Sasol se Ikusasa-projek met veiligheid en sekuriteit by die asgate te help.

Nog niks is egter gefinaliseer nie.

Hy het mnr. Viljoen na ’n afdeling wat hom sal kan help om vir die skade aan sy voertuig te vergoed, verwys.

Mnr. Viljoen het mense aangeraai om vir hul eie veiligheid eerder staal of yster by die skrootwerf voor die asgate in te gee.

Die Echo en Ridge Times het al verskeie kere oor die veiligheid van mense en die swak toestand van die asgate berig.

Die munisipaliteit sou vanjaar aandag aan die asgate gee, maar reëls by die asgate word steeds nie toegepas nie en daar is steeds geen sekuriteit nie.

Die koerant het mnr. Masango oor die kontrak met Sasol uitgevra en hy het gesê: “Die aanbod vir die beheer en onderhouding van die asgate is nie gefinaliseer nie.

“Sodra ’n diensverskaffer aangestel is, sal dit van hulle verwag word om net ’n klein hoeveelheid mense wat herwinning doen, te wettig.

“Sasol gaan nie die asgate oorneem nie, maar die munisipaliteit werk wel saam met Ikusasa om oplossings vir die probleme by die asgate te vind en om die sekuriteit en toegang te verbeter.

“As dit gefinaliseer is, sal al die mense by die asgate verwyder word en net goedgekeurde werknemers van die betrokke diensverskaffer, goedgekeurde mense wat herwinning doen en die gemeenskap wat vulis aflaai, sal by die asgate toegelaat word en daar sal reëls gevolg word.

“Sodra die sekurtiteit in plek is, sal alle mense wat sonder toestemming daar is, vervolg word.”

Mnr. Masango het egter nie die Echo en Ridge Times se vrae oor wat met Interwaste gebeur het, beantwoord nie.

Hy het vroeër vanjaar gesê dat Interwaste in Junie of Julie die asgate sou oorneem en dan sou sake drasties verbeter het.

Daar was sprake dat Interwaste nooit betaal is nie, maar mnr. Masango het ook nie vrae hieroor beantwoord nie.

Sasol se skakelbeampte is ook vir kommentaar genader, maar het nie teen druktyd gereageer nie.

Verskeie mense het op die Echo en Ridge Times se Facebook-blad (Echo/Ridge Times Newspapers) kommentaar gelewer oor die toestand by die asgate.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version